Die beskrywingspunt rakende die daarstelling van ’n gedragskode om die vroulike predikante van die NHKA teen seksuele teistering te beskerm, het tydens ’n onlangse vergadering van die Raad vir Kerkregtelike Advies weer ter sprake gekom. Ek, as enigste vrou wat in hierdie Raad dien, is om my mening en raad gevra.
Seksuele teistering as sodanig is geweldig kompleks, en die verskynsel het vele kante. Die saak moet noodwendig met die nodige omsigtigheid en sensitiwiteit hanteer word. Dat maatreëls in plek moet wees om vrouepredikante te beskerm, is noodwendig. Dat daar nog altyd mense was wat hierdie grense oorskry het, is ook ’n ongelukkige realiteit, en dat dit diep verwond het, skade veroorsaak het en trauma tot gevolg gehad het, kan niemand wegredeneer nie.
Wat antwoord ek as byna 40-jarige vroulike predikant wanneer ’n klomp ouer, manlike kollegas my mening en raad oor hierdie sensitiewe kwessie vra? Ten eerste moet ek prontuit verklaar dat my mening hoegenaamd nie verteenwoordigend hoef te wees van enige iemand verder as ekself nie. Ek antwoord hierdie vraag vanuit my persoonlike ervaring, verwysingsraamwerk en denke, en dit mag nie as die absolute of laaste woord oor ’n uiters delikate saak beskou word nie.
My eerste belydenis was dat seksuele teistering in die Kerk ’n werklikheid is. Dis tragies en ongelukkig, maar hierdie onaanvaarbare gedrag kom wel in ons Kerk voor. Ons leef in ’n gebroke wêreld en sonde en boosheid manifesteer oral. Die Kerk is geen uitsondering nie. In ’n sekere sin is die moontlikheid vir teistering in die kerk selfs nog groter as in die korporatiewe wêreld omdat die kerk by uitstek ’n familie is wat vir mekaar omgee en na mekaar uitreik. Grense word uit die aard van die saak hier makliker oorgesteek as in ’n kliniese, professionele omgewing.
Ongelukkig het ek persoonlike ervarings van teistering in die NHKA beleef. Synde die pastor, is jou werk om te bemoedig en te vertroos, om te luister na die pyn, en die evangelie as hoop te verkondig. Onwetend word ’n gekneusde manlike ego deur ’n sagte vrouepredikant gestreel, en die tafel is gedek vir onwelvoeglike opmerkings en gedrag, en voor jy regtig besef wat gebeur het, was jy reeds die slagoffer van dit wat in die korporatiewe wêreld as “seksuele teistering“ gemunt is.
Nou ontstaan die vraag oor hoe ons dit behoort te hanteer. Weer eens kan ek alleenlik dink, sê en handel vanuit my eie verwysingsraamwerk, en dit is as sodanig beperk en ver van ’n finale woord af.
Gegewe die sensitiewe aard van die ervaring, aangesien dit ’n ervaring is van die skending van privaatheid en die binnedring van ’n ruimte waarin ek jou nie ingenooi het nie, beskou ek dit nie as wenslik om die saak aan die groot klok te hang nie. Dit gaan weer eens die slagoffer se trauma en pyn vererger, omdat aanklagte nou oor en weer rondgeslinger gaan word en elke pastorale gesprek en handeling oopgevlek sal moet word om koud en klinies te oordeel of hier wel ’n oortreding begaan is. Ek wil nie in ’n situasie beland waar ek moet gaan nadink wat ek op watter dag aangetrek het, wat ek nou weer vir wie in watter gesprek gesê het, en hoe dit moontlik die verkeerde uitwerking kon gehad het nie.
Die slagoffer moet altyd onthou dat die audi alteram partem-reël toegepas gaan word en dat die beweerde oortreder die reg op verdediging het. Hierdie verdediging kan blatante leuens of onwaarhede wees wat die slagoffer nog verder kan verneder en benadeel ten einde die oortreder se eie onskuld te laat blyk. Gevolglik word die slagoffer se trauma uitgerek en vererger.
Daarbenewens is die beweerde oortreder in die meeste gevalle deel van ’n gesin. Gevolglik word onskuldigdes ook ingesleep by die trauma wat nou ’n openbare aangeleentheid geword het. Hieruit spruit uiteindelik bitterheid teenoor die predikant en uiteindelik die Kerk.
Om die pyn van die slagoffer onder die mat in te vee, is hoegenaamd nie wat ek voorstel nie. Ek wonder oor die wenslikheid daarvan om as predikant van ’n gemeente ’n openbare aangeleentheid daaruit te maak. Ek wil graag glo dat daar genoeg ondersteuningsnetwerke in die NHKA bestaan onder kollegas, ringskommissies en ook met die welstandsprogram dat ’n slagoffer van teistering wel hulp kan vind. Binne die vertroulikheid en sensitiwiteit van hierdie kontekste kan die pyn van die slagoffers doeltreffend hanteer word. As predikant is daar darem ook jou eie persoonlike ondersteuningsnetwerke in familie en vriende wie se harte en huise altyd oop is.
Ten slotte is daar hopelik darem enkele figure in die kerkraad of ringskommissie wat beskerming kan bied indien die saak onder hul aandag gebring is. Gevolglik is hulle dan nou maar in die toekoms ’n ewige lastige teenwoordigheid waar pastorale kontak tussen die predikant en die beweerde oortreder noodwendig is.
Ek weier om die skoentjie van die slagoffer aan te trek, want dit pas my nie. Ek gaan myself ook nie as sodanig laat etiketteer nie. Ek bevind myself nou maar een maal in ’n manlik gedomineerde beroep (hoewel dit met rasse skrede aan die verander is!), en dit het implikasies. Ek wil graag ernstig opgeneem word. Ek wil geag word vir my prestasies, bydraes, vermoëns en pastorale bewoënheid. Dit is vir my ononderhandelbaar. Ek wil nie bejammer word nie. As dit dan moet beteken dat die boosheid van die mensdom my soms ook gaan ontnugter, moet ek daaroor kan triomfeer. Ek wil die mag behou om te besluit dat ek niemand toestemming gee om my oor myself of my vermoëns te laat twyfel nie. Ek behou die besluit dat niemand my my outonomiteit sal ontneem nie.
Om ’n profeet te wees, was nog altyd lewensgevaarlik. Aanvaar die uitdaging, biddend in diepe afhanklikheid van die Here se genade.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Om seksuele teistering onder die mat te vee is nie die oplossing nie. Daar moet ‘n kanaal wees wat kortpad maak van die weg na die Kommissie. Daar moet daadwerklik daarvan werk gemaak word. Hierdie kerk kan nie ook ‘n Roomse affêre word waar oortreders skotvry daarvan afkom nie.
Ek dink ná die lees hiervan dat die vroue in die Kerk nog lank uitgelewer gaan wees. Wat ek hier gelees het verteenwoordig na my mening nie die vroue se posisie voldoende nie. Wat op die AKV gehoor is uit die vroue se monde was iets totaal anders.
Sal graag ander vroue in die Kerk(Lidmate, predikante, ouderlinge, diakens en werknemers,) se menings wou hoor. Ek wil nie voorgee dat ek weet wat vroue beleef en dat ek namens hulle kan praat nie.
Ai Dr le Roux. Ek wens my vriendinne en kollegas kon die moed en oortuiging bymekaar skraap om hulle ontsteltenis oor wat jy hier skryf aan die groot klok te hang. Ongelukkig het hierdie stuk tot gevolg dat hulle bang is dat hulle nie ernstig geneem en geglo sal word nie; dat daar ‘n rooi X op hulle rug sal wees as hulle dit durf waag om in ‘n openbare forum te vra dat ons van ons manlike broers in Christis verwag om verantwoordelikheid te neem vir onaanvaarbare gedrag. Hul reaksie op hierdie meningstuk staaf inderdaad jou oortuiging rakende voortslepende trauma. Maar as ons nie ‘n ruimte skep waar die trauma wel aan die groot klok gehang kan word sonder vrees vir die gevolge nie, sê ons noodwendig vir die vroue van die kerk dat hoewel ons hulle trauma glo, ons asb niks daarmee te doen wil hê nie. Hulle moet dit eerder as ‘n privaataangeleentheid bly hanteer sodat die eintlike oorsaak van die kwaad – ‘n kultuur wat oortreders laat begaan wanneer hulle doen/sê/vat wat hulle wil -nooit werklik aangespreek hoef te word nie. Vroue vra nie om van ons outonomiteit ontneem te word nie. Inteendeel. Dit wat jy vir jouself wil hê is wat ons vir alle vroue van die kerk wil hê. Niemand wil ‘n slagoffer wees nie. Maar terwyl vroue gevra word om deur die bestaande kanale en privaat hulp te soek, vra niemand die kultuur wat sulke gedrag toelaat om te verander nie. En daar lê die probleem. Ek wil my vriendinne en kollegas uitnooi om by hierdie gesprek betrokke te raak sodat ons hierdie komitee kan help om ‘n kultuur in die kerk te skep waar “‘n ewige lastige teenwoordigheid” onder geen omstandighede beskerm of geduld sal word nie. Geen vrou hoef ooit te wonder watter klere sy op ‘n spesifieke dag aangehad het en of dit ‘n rol in ‘n ander grootmens se keuses gespeel het nie.
Ek verkies om anoniem te bly asseblief. Na 10 jaar van seksuele teistering deur ‘n manlike kollega by ons kerkkantoor, het ek hom aangekla, Mense sal vra waarom ek so lank dit stil gehou het? Dit is nie maklik om teen ‘n “gewoonte misdadiger” op te staan nie. Ek was bang dat mense my nie sou glo nie….. Tydens die dissiplinêre verhoor het die beskuldigde my menings verdraai deur leuns te opper. Hy is skuldig, maar ook onskuldig, aangesien daar geen bewyse of getuienisse teen hom was nie. Dit is nie ‘n maklike pad om te stap nie. ‘n Mens voel baie keer baie alleen en magteloos, aangesien daar nie reg- en geregtigheid geskied het nie. Hy is nie geskors nie. Geen waarskuwing is vir hom gegee nie. Ek moes hom elke dag sien, en optree asof hy geen skade my aangedoen het nie. Ek het sielkundige behandeling ontvang vir ‘n hele paar maande, om die trauma te verwerk. Ek wil vandag vroue bemagtig en bystaan wat deur seksuele teistering gaan. Ek moes leer om vir myself op te staan…. Ek is vandag waar ek 10 jaar gelede moes gewees het, deur Ons Vader se genade wat my versterk het dag vir dag. As daar iemand is wat met my wil gesels, of raad wil vra hoe om hierdeur te werk en dit te hanteer, is jy meer as welkom. Ek wil ‘n verskil maak in geteisterde vrouens se lewens. Ons stem moet gehoor word. Dankie vir die geleentheid dat ek my saak kon stel.