Ons is in daardie stadium van die jaar waar ons ’n ander ritme oral rondom ons sien. Die gewone alledaagse bekende ritme maak plek vir iets anders. Dit voel asof ons nie meer op kalm waters roei nie, maar in ’n stroomversnelling van bruisende witwater ingesleep word wat oral op die rivier bo die golwe uit skuim. Net om, sonder waarskuwing, weer by ’n plek van ewe skielike stilte uit te kom. Dit is hoe die einde van 2025 vir baie mense lyk.
En so tussendeur die gejaagdheid en geskarrel om alles voor Kersfees af te handel, staan ons soms steeds voor ’n lewe wat aanhou om ons te verras, sonder dat ons werklik daarop voorbereid is. Ek dink aan die nuus wat soms so maklik en amper onmenslik deur iemand in ’n spreekkamer aan jou meegedeel word: Ek is jammer, maar daar is niks wat ons verder kan doen nie. Dit wat jy hier op die skerm sien, gaan nou deel wees van jou nuwe lewenswyse. Of dalk die teleurstelling hier aan die einde van die jaar wanneer die slegte nuus breek dat al jou harde werk nie gerealiseer het nie, en jou drome met een enkele nuusgreep verbrokkel. Sonder dat ons dit besef, steel slegte nuus ons lewensasem. Die slegte nuus word naderhand ’n slegte storie – ’n verhaal met ’n dalende plot wat eindig by geen drome, net ’n vertrapte modderpoel waarin alles vuil getrap word wanneer jy daardeur loop.
Hierdie modderverhaal word in hierdie seisoen nie altyd ’n tyd van sneeumanne bou en klokke wat lui nie, maar eerder ’n kleilatgooiery tussen mense wat mekaar eintlik moet liefhê en verhoudings behoort te bou. Jy weet presies waarvan ek praat: dié slegte nuus aan die einde van die jaar wat gesinne en vriende moedeloos laat koppe sak, want daar is net nie meer krag oor nie. Een so ’n storie kan baie maklik ontstaan uit die afwesigheid van goeie nuus, wanneer die skrif aan die muur is. Hoeveel keer het ek nie al hierdie spanning in die bekendheid van ’n geloofsfamilie gevoel nie? Sinsnedes of gesprekke wat gewoonlik hierdie storie verwoord, klink so: Die einde is naby; Die deure gaan nie meer lank oop bly nie; Daar is nie geld nie; Waar is die mense?; Die lewe kos net té veel.
Hierdie verhaal word maklik deel van die slegte nuus, eerder as deel van die goeie nuus. En dan, ironies genoeg, speel dit binne die kerk af – die plek waar Goeie Nuus veronderstel is om tuis te wees.
Die Kersverhaal is ’n boodskap van goeie nuus. Maar wanneer ons na ons eie wêreld en spesifiek na die kerk kyk, word slegte nuus dikwels essensieel deel van die boodskap. Martin Luther King jr het gesê: Only when it is dark enough can you see the stars. Die verandering van die tye kan so maklik as negatief en donker beskryf word – en hierdie realiteit het baie vinnig deel van die kerk se verhaal geword. Die donkerte word gekenmerk deur aanhoudende slegte nuus.
Hoe lyk hierdie werklikheid?
Wanneer ons wil verstaan hoe donker hierdie verhaal geword het, begin ons dikwels by die syfers – nie omdat getalle alles is nie, maar omdat dit iets verklap van wat agter die skerms gebeur. Prakties-teologiese navorsing oor hoofstroomkerke in Suid-Afrika wys al vir jare op ’n bestendige daling in lidmaatgetalle. Minder lidmate, minder dooplidmate, minder jong gesinne. Dit eindig nie net in mooi netjiese grafieke in ’n verslag nie – dit beteken dat sommige gemeentes hul deure moes sluit, ander moes saamsmelt, en baie sukkel om predikante, ampsdraers en volhoubare bediening te behou. Die donkerte lê egter nie net in getalle nie. Dit lê in die gevoel wat daarmee saamkom: die gevoel dat die kerk besig is om te verdwyn; dat God se mense stadig uitgedun word tot ’n klein, moeg oorblyfsel.
En dan gebeur daar iets subtiel maar gevaarlik: Die slegte nuus begin self soos ’n evangelie klink. Ons vertel dit oor en oor: Ons word minder; Ons word ouer; Ons geld raak minder; Ons tyd raak minder.
Die storie word ’n slegte evangelie – ’n evangelie van verlies, tekort, eindes en donker. Ons preek dit vir mekaar in kerkrade, vergaderings en gange. Ons sit met mekaar se statistieke in die hand en fluister: Kyk hoe sleg gaan dit. En sonder dat ons dit agterkom, begin hierdie slegte evangelie ons geloofsverbeelding versmoor.
Wanneer sielkunde en geloof mekaar hier ontmoet, help dit om te hoor wat navorsing oor positiewe en negatiewe sielkunde sê. Positiewe sielkunde praat van menslike flourishing – om te floreer. Dit sluit dinge in soos betekenis, hoop, verhoudings, vreugde en die ervaring dat my lewe saak maak. Navorsing wys dat geloofsgemeenskappe wat hoop, sin, ondersteuning en betrokkenheid beliggaam, dikwels ’n sterk beskermende faktor vir mense se welstand is.
Aan die ander kant wys sielkundige navorsing oor godsdiens ook dat geloof ’n bron van ekstra pyn kan word wanneer die narratief oor God en die kerk hoofsaaklik negatief is. In die literatuur word gepraat van negatiewe godsdienstige coping: wanneer iemand oor God dink as ver weg, strafbaar, verwerpend; wanneer geloofswoorde net skuld, vrees, oordeel en wanhoop oproep. Dan word die kerk nie ’n ruimte van heling nie, maar ’n plek waar mense net meer swaar kry.
’n Storie van skuld, mislukking, tekort, eindes; ’n Storie wat mense buite én binne die kerk laat voel dat die kerk net ’n las geword het. Maar dit is nie die enigste storie nie.
Kersfees herinner ons daaraan dat God se verhaal altyd op ’n ander manier begin. Nie in ’n raadsaal of ’n begrotingsvergadering nie, maar in ’n stal. Nie met volle kerke en perfekte strukture nie, maar met ’n jong vrou, ’n timmerman, ’n klompie skaapwagters en ’n Babatjie in ’n voerkrip. Wanneer die engele verskyn, is hul boodskap nie: Julle is reg, alles gaan agteruit nie. Hulle sê: Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle goeie nuus van groot blydskap.
Goeie nuus! – evangelie – is nie ontkenning van die donker nie. Dit is lig wat in die donker skyn. Martin Luther King jr se woorde help ons: eers wanneer dit donker genoeg is, sien jy die sterre regtig. Ons donker kerkverhaal is werklik, maar juis dáár kan die ster van Kersfees weer begin skyn. Dit vra van ons om te onderskei tussen ’n slegte evangelie en ’n goeie evangelie in ons kerkverhale.
Die slegte evangelie is die storie wat net vertel hoe min, hoe oud, hoe arm, hoe moeg ons is. Dit is die storie wat slegs vanuit vrees, verlies en tekort praat. Dit is die narratief wat ons mense se siel skade aandoen; wat maak dat hulle die kerk assosieer met skuldgevoel, bekommernis en eindes. Die goeie evangelie is nie ’n suikerlaag oor harde werklikheid nie. Dit is die storie wat eerlik oor die donker praat, maar weier om die donker die hoofrol te gee. Dit is die storie waarin ons sê: Ja, ons is dalk minder, ja, die strukture is broser, maar Christus is nog hier. God is nog aan die werk. Die Gees is nog besig om lig aan te steek in gewone mense se lewens.
’n Blymoedige kerk is ’n geloofsgemeenskap wat die slegte nuus hoor en dra – doktersuitslae, verlore drome, dalende syfers – maar wat dit alles binne ’n groter verhaal inbring: die verhaal van Immanuel, God mét ons. ’n Blymoedige kerk is ’n plek waar mense weer kan asemhaal. Waar hulle seer ernstig opgeneem word, maar waar hulle ook hoop en humor en lig ontdek. Waar iemand nog kan sê: Ons het minder, maar wat ons het, deel ons. Ons is moeg, maar ons dra mekaar. Ons verstaan nie alles nie, maar ons vertrou dat Christus nie uitgestap het nie.
Miskien is dit die uitnodiging van Kersfees vir die kerk in 2025: Om nie vas te kyk teen die grafiek van dalende getalle nie, maar om op te kyk na die ster wat nog skyn. Om nie net die slegte evangelie van tekort te herhaal nie, maar om die goeie evangelie van Immanuel weer te leef, te vier en te vertel. Wanneer dit donker genoeg is, sien jy die sterre. Wanneer die syfers laag genoeg is, onthou jy weer: die kerk was nog nooit ons projek nie. Dit was nog altyd Christus s’n.
En juis daarom – in hierdie tyd van die jaar, in hierdie donker en lig saam – kan ons nog blymoedig kerk wees. Nie omdat alles goed gaan nie, maar omdat die Goeie Nuus steeds waar is: Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Joh 1: 5, AFR83).