So baie boeke! Kan julle nie maar party daarvan weggooi nie?

Tog vreemd hoe mense verskil.

Onlangs besluit ons om op te ruim: Na 41 jaar in dieselfde huis besef ’n mens skielik hoeveel goed êrens ’n lêplek in jou huis gevind het. Kosbare items uit jul kinderjare, wat jy nuut ontdek en wéér ’n plekkie voor vind. En jare se boekversamelings. En papiere – belangrike dokumente, lesingmateriaal uit jul gesamentlike studiejare, werkopdragte met hoë en minder indrukwekkende puntetoekennings. Sertifikate, foto’s, tydskrifte waaraan jy gewerk en waarin jy gepubliseer het.

Gelukkig ruim ons nie op om na ’n kleiner plek te verhuis nie, maar die effek is dieselfde. Ons deel die huis as’t ware in twee: ’n nuut ingerigte gedeelte vir ons dogter en kleinseun wat terugkom huis toe, en die hoofdeel wat vir my en my man herrangskik moet word.

Daar is opofferings, vanselfsprekend. ’n Baie groot hap uit my spaargeld, ek is my gerieflike waskamer kwyt, my man se ruim kantoor moet nou in ’n kleiner vertrek inpas – en my boekevertrek met mure vol boekrakke skuif na ’n veel kleiner vertrek.

Heerlik om weer boek vir boek af te pak, af te stof, en nou alfabeties volgens skrywer in ’n nuwe omgewing uit te pak. My sisteem is beslis nie ’n Dewey-stelsel nie, en selfs Dewey het sy gebreke. Maar darem: Een rak vir Afrikaanse romans, digbundels en dramas, en die gepaardgaande letterkundige studies. Rakke vir die ekwivalente Engelse boeke.

Nou: Waar kom al die Christelike lektuur? En die filosofiese werke? Die kinderboeke – vir kleuters, groter kinders en jong volwassenes? En die opvoedkundige handleidings, die mediese boeke, al die taalhandleidings en woordeboeke…

Dit is te midde van dié uitsortering dat die kasbouer die spulletjie só bekyk, en ewe hulpvaardig voorstel: So baie boeke! Kan julle nie maar party daarvan weggooi nie?

Ek luister verstom. Sprakeloos. Weet nie hoe om te antwoord nie. Weggooi? My boeke? My metgeselle deur baie jare se ervaringe en verliese, so ’n enorme deel van my identiteit?

Laurika sing van die mense wat sy liefhet wat haar moskombersie, haar menskombersie is. So loop sy deur die wêreld, beskut teen die koue, gepantser teen die vuur, ’n ekstra liefdeslaag om haar. En as een van dié mense weg moet gaan, kom sit daar ’n seerplek, en sluip sy deur die wêreld, die kwesbaarheid self…

My boekkombers het my beskut deur eensaamheid en teleurstellings, deur swaar tye en wanhoop, en nou kom daar die argelose opmerking: Smyt dit weg.

En om alles te kroon, sê die kasbouer se vrou: Ek het nog nooit in my lewe ’n boek gelees nie.

Wat? Is dit moontlik? Opnuut staan ek verstom. Sprakeloos.

Dis goed dat ons nou opruim. Ons dogters sou nie weet wat om met als te doen as hulle eendag hierdie plek moes opruim nie, al is albei van hulle ywerige boeklesers. En nou herontdek ons ou gunstelinge, begin die meeste van die boeke weer ’n staanplek kry. Stapeltjies (klein stapeltjies) boeke gaan na my meisiekind se skoolbiblioteek, boeke wat sy met haar spraakterapieleerders kan deel. Sekere boeke wat ek deur die jare van emigrerende of afgestorwe familielede “geërf” het, gaan na tweedehandsboekwinkels. Maar vir die res vind ek oral in die huis staanplek – dis immers deel van my hele wese…

Moet ek skuldig voel oor die oordaad? Waarom, tog, so baie boeke? Wat het dit my die afgelope 20 jaar gehelp dat ek soveel bestuurskursusse voltooi het – dit het my nie ver gebring nie. En al die Bybelstudiekursusse het my uiteindelik nie ’n beter Christen gemaak nie. En al die digbundels het nie gehelp dat ek nou ook aangrypende meesterstukke kan skep nie. En nou dat die jare meer word en die energie en verstandelike vermoëns weldra minder, kan Kant en Sartre en Descartes en die res my nie groter insig gee nie. So wat nou, was dit ooit alles die moeite werd?

Dan herinner ek my aan CJ Langenhoven se woorde: Ek en jy wat bevoorreg was om te leer lees, om van boeke ons helpers en troosters en metgeselle te maak – wat sou ons nie desnoods opoffer om hulle te behou nie? Ons sou sê, as dit nie anders kan nie, gee ons die skraalste kos en die grofste klere – gee ons strooi om op te slaap, en korsies om te eet en rou velle om ons naaktheid te bedek, maar laat ons ons boeke.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap