Ek het my pad tussen kerke in 2018 begin loop…
Eers was ek vir ses jaar na my studies ’n voltydse dominee. ’n “Goeie” voltydse dominee was ek beslis nie! Ek het geen sin vir die “jeug” nie, ek het niks van die FinKom geweet nie, so ek het eerder my mond gehou. Ek het in ’n besigheidshuis grootgeword en is nie van die tipiese dominee-materiaal wat hou van ander se hartsake nie. Ek hou van goeie, logiese feite.
Al wat ek het wat effe kerklik is, is my liefde vir tale en argeologie. Mense in hul omstandighede baie jare terug, en hoe ons vandag daardie selfde taal gebruik om oor ons verskynsel van geloof en samesyn te praat.
In 2018 begin daardie wolk oor my hang… Ek is nou uit die bediening, wat maak ek met kennis van die jaar 420 vC? Ek vind my so tuis tussen die bladsye van my Bybel, maar nie meer in die praktyk van die Kerk nie.
My man stel toe voor, hoekom preek jy nie net vir gemeentes nie? Bel hulle en hoor wanneer hul predikant met verlof gaan. Jy hoef nie gemeentewerk en basaars en kerkrade te doen nie, net die evangelie te verkondig. Gou was my Sondae stampvol. Gou het ek goeie kollegas en goeie vriende in gemeentes gemaak. Gou het ek by kollegas die vrae gehoor: Waarom sak my Kerk uit? Ek probeer dan so hard om ’n goeie dominee te wees. Ek werk so hard aan die jeug. Ons probeer ons Kerk modern maak. Almal word ingesluit. Ek gaan op leierkursusse. Wat doen ek verkeerd?
En in daardie oomblik het ek besef: Dit is wat ek wil doen! Rondgaan by gemeentes en help! Veral dié wat te klein, te arm of te ver is.
En so begin my pad in die Hervormde én die NG Kerk. Ek soek antwoorde sodat ons kan verstaan. Ek het die ervaring dat ek by meer as 20 kerke in drie jaar gepreek het. Die vraag in my kop: Waarom is oor die 20 kerke se storie almal dieselfde: Daar was ’n tyd omtrent 40 jaar terug, in die Kerk, toe ons stoele in die kerk moes indra! Was dit dan nie sanksietyd nie?
My man, Gerco, is ’n siviele ingenieur. Vreemd dat ek my antwoord in sy beroep op Upington se aanloopbaan moes kry. Die manne daarbuite wat nog uit die Weermag-dae kan onthou: Dis hel-warm, maar soos in letterlik! Hulle moes ’n aanloopbaan assesseer wat in omtrent die laat 1980’s laas liefde gekry het, so hulle nader die ou ingenieurs. Daardie aand om die vuur lag die klomp ou ingenieurs vir die absoluut minimale bitumen (teer) wat in sanksietye ingevoer kon word en die mirakels wat hulle moes verrig met wat minimaal tot hul beskikking was… Ons jongmense se monde het oopgehang! Innovasie is breinoefening!
Die vraag in my kop: Waar is al daardie innoverende mense uit die dae van vol kerkbanke vandag? Hoekom het ons dominees hierdie persepsie dat ons net vorentoe met die Kerk kan gaan as jongmense (wat hou van verandering) dit vorentoe gaan vat? Verandering en innoverend wees het niks (na my opinie) met ouderdom uit te waai nie, maar met die sielkunde van hoe jy grootgeword het. As jy nooit standvastigheid en geborgenheid as kind geken het nie, sal jy vir seker nie van verandering hou nie, maak nie saak wat jou ouderdom is nie! Kan die Kerk iets hieraan doen? Ja, deur kerkgangers te help om weer vertroue in die Kerk te kry. Lei meelewende kerkmense op om in klein, afgeleë plekke nie die dominee te wees nie, maar kerkraad te wees wat kan woeker!
Verlede Saterdag staan ek by ’n potjie met een van my nuwe kerkraadslede: Ds, jy doen goed. Onmiddellik vies, antwoord ek hom kwaai! Nee, dis julle! Die dinamika van die nuwe kerkraad werk! Julle doen almal julle deel. Die gemeente voel weer of die Kerk belangstel, want almal in die kerkraad stel belang! Hy antwoord: Kerkwees is soos hout wat klaar gepak is vir die vuur, dit kort net aansteek.
Ek het, met die hulp van ander, soort van my antwoord gekry. Ek gaan aanhou help, en voortgaan om my met kerkrade te omring wat my “tekortkominge” verstaan en kan bybring, en voortgaan om met innoverende dominees te praat, en voortgaan om die Genade te bring… Die Vader alleen weet, ons het God nodig in tye soos dié…
(Ds Annalize Rossouw-Lombard is predikant van Dora Theo Gemeente Kimberley,
maar dien tans volgens ’n onderlinge ooreenkoms ook in die NG Gemeente Warrenton)