Geil lusern in die laagste landjie;
Geil groen blare en blomme blou;
Aalwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en saffier daarbowe;
Ruik van die keurbos rondgesprei;
Kort klein skadu’s oor die klowe;
Somer en son en saffier vir my!
C Louis Leipoldt (uit: Die beste) beskryf die mooiste wat die aardse bestaan aan ’n gewone sterfling bied – die blywende skoonheid en eenvoud van God se skepping. En Adventstyd val juis in die Suider-Afrikaanse somer – soos Lize Beekman ons herinner:
Nog ’n somerson-Kersfees
Want die koningskind verjaar
Die suiderkruis my kompas
En ’n eng’lekoor ry saam
Ek bring vir jou ’n sonneblom uit Bethlehem
En gee dit water op Bloemfontein
Uit Hanover bring ek kappertjiesaad
Uit die tuin van nr 3 Darlingstraat
En hanepootdruiwe uit die Paarlvallei
Ons lewe nou maar eenmaal op ’n lieflike lappie aarde! Wie sal ooit Lucas Maree se hunkering kan vergeet:
Kyk hoe sluit die son die hemel oop
Kyk hoe wyk die nag, voor die dag
Kyk hoe word die see in goud gedoop
Kyk hoe bloos die strand, vol van hoop
Gedagtes vat my soos ’n kolk wat draai
Deur die newels na Victoriabaai
En saam met Jak de Priester vind ons vrede wanneer hy die Klein-Karoo besing:
Daar is geen beter plek om met die sterre te dans
Soos op ’n stil nag in die Klein-Karoo nie
Daar is geen beter plek om weer vrede te vind
Soos in die hart van die Klein-Karoo nie
Ons vereenselwig ons gemaklik met die digter van Psalm 136 waar hy in ’n aangrypende skeppingspsalm God se grootheid en goedheid bely en Hom telkens loof wanneer hy sy magtige dade in verwondering aanskou.
Ons beleef dieselfde gevoel van verwondering elke keer as ’n baba gebore word; elke keer wanneer iemand iets uit selflose liefde doen – en moenie vergeet van elke genade-asemteug nie. Ons beleef dit weer en weer elke keer as ’n nuwe dag breek en tydens elke sonsondergang; en by die aanskoue van die skouspelagtige hemelruim, die glorieryke omvang van die uitspansel en die geelperskereën in die boorde – en ook in die reuk van nat grond en van wilde jasmyn wat blom tussen Sabie en Hazyview.
Ons hoor dit in die geluid van ’n brullende leeu, die snork van ’n renoster, die skree van ’n visarend, die koer van ’n tortelduif, die roep van ’n piet-my-vrou, die branders wat klots teen Waenhuiskrans se rotse, die oorverdowende gedruis waar die Oranjerivier se water met mag en mening oor die klippe stort, die sagte fluistering van die wind deur kameeldoringbome in die Kalahari, die geknetter van ’n sekelboskampvuur in die Bosveld – en in die klank van die soetste taal.
Ons sien dit in die beeld van ’n arend in vlug oor die Magalies, miskruiers ywerig aan die werk tussen olifante in die Oos-Kaap, bloekoms langs die Breërivier, statige kremetarte in die verre noorde, die Sederberge se imposante rotsformasies en wilde aalwyne; ruwe klowe en geharde woestynrose in die Richtersveld, die mosaïek van laatsomerkleure in die Oos-Vrystaat, geil mielielande tussen Sannieshof en Biesiesvlei, golwende rooibos- en aartappellande in die Sandveld, ’n tolbos wat rol in die Karoowind, die nagtelike sterrehemel wat skitter oor die Roggeveld, die Waterberge se jakkalsbessies, koorsbome en kameelperde – en kosmos en donderstorms op die Hoëveld.
Ons raak in vervoering oor Elandsbaai se lang en wye strand, en Paternoster se fyn, wit sand, die Drakensberge se soele rotspoele en steil kranse, die Laeveld se uitgestrekte panoramas en die betowering van die magiese mistigheid van die Tsitsikammabos; die Visriviervallei se ronde klippe en die Namib se ongerepte duine; wingerde en olyfboorde in die Boland, die Noordkus se dolfyne en koraalriwwe in die saffierblou oseaan, Kwaaiwater se walvisse, wilgers op die oewers van die Vaal, springbokke op die Kalaharivlaktes, blomtapyte in Namakwaland – en fynbos en proteas teen die hange van die Outeniquaberge onder die korhaanblou lug.
Dit vul ons met ontsag wanneer ons besef watter storie die voue en skeure in die Tafelbergsandsteen teen die hellings van Meiringspoort vertel – en dit tot ons deurdring dat die Knersvlakte, Magoebaskloof, die St Lucia-vleiland, die Vallei van Verlatenheid, Kompasberg, die Knysnawoude én Vredefort se grasvelde op ’n enkele landkaart gevind kan word.
Goddelike skoonheid; loutere genade – alles om ons te herinner aan die almag van God. Die Psalmdigter raak liries oor die grootsheid van God en die wonder van alles wat Hy gemaak en gedoen het – en telkens kom hy weer diep onder die indruk van die heel grootste wonder: die nimmereindigende liefde van God. Ons word 26 maal in Psalm 136 herinner: Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Mag elke leser van Die Hervormer in die Adventstyd opnuut bewus word van die goedheid, grootheid en liefde van God. Koos du Plessis se woorde is ook die redaksie se diepste wens en gebed vir elke leser: Skenk ons ’n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.