Romeine 5: 1-11

Hoop. Die lig aan die einde van die tonnel. Die lig wat in die donker skyn. Hoop. ’n Klein woordjie wat eintlik soveel waarde dra. Die woordjie hoop is ’n woord wat ons daagliks gebruik. Maar wat beteken hoop eintlik? Wat beteken die woord hoop vir jou?

Jo Black het ’n liedjie geskryf met die naam Bring die hoop weer terug en hy sê die volgende oor hoop:

Dis die wens dat die son weer opkom

Dis dat vrede by ons uit kom

Dis die samesyn voor ‘n wêreldbeker eindstryd

Dis die taal van ’n hart

Dis as ons harte na mense terugdraai.

Maar ons hoor in hierdie beskrywing slegs ’n wens…

Die hoop wat ons as Christene in God het, is nie net ’n wens nie; dit is ’n diepe innerlike oortuiging dat ons in Hom kan vertrou, selfs wanneer ons nie die uitkoms kan sien nie. In Christus het ons ’n hoop wat nie net vir hierdie lewe is nie, maar ook vir die lewe wat kom – dit is die hoop op ’n ewige lewe saam met Hom. Nou vra ek u weer: Wat is hoop?

Hoop is om van dorp na dorp te reis en mense van ware liefde te leer. Dit is om die wat deur die samelewing uitgeskuif is juis nader te roep. Dit is om 5 000 mense met twee vissies en vyf brode kos te gee. Dit is om iemand te red wanneer die storms om hulle woed en die water van alle kante af kom en hulle besig is om te sink. Maar bo alles; ware hoop is die geboorte van ’n kindjie in ’n stal, om te ly en aan ’n kruis vir die wêreld se sondes te sterf. Om na drie dae weer op te staan. Hoop is die ewige lewe wat ons as gevolg van al hierdie gebeure ontvang het. Wat is hoop? Hoop is Jesus Christus. Gister, vandag en môre…

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies