1 Korintiërs 15: 54-58; Johannes 11: 25
Die opstanding van Jesus Christus is nie bloot ’n gebeurtenis van die verlede nie – dit is ’n voortdurende bron van hoop en krag vir ons vandag. Dit is treffend dat Paulus sy hoofstuk oor die opstanding van Jesus afsluit met ’n oproep om voluit in die hede te leef. Ons lees in 1 Korintiërs 15: 58 (AFR53): Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.
Die opstanding van Jesus beteken nie net dat ons eendag uit die dood sal opstaan nie, maar ook dat ons nou ’n nuwe lewe kan begin. Toe Jesus met Marta gesels het oor die dood van haar broer Lasarus, het Hy gesê: Ek is die opstanding en die lewe (Joh 11: 25). Hieruit leer ons dat die opstanding nie net ’n leerstelling is nie, maar ’n werklikheid in die persoon van Jesus Christus. Omdat Jesus opgestaan het, kan ons ook nou in die hede opstaan. Ons kan opstaan uit die grafkelders van ons eie smarte en beproewings.
Die Gees van Jesus woon in ons en bemagtig ons met dieselfde krag wat Hom uit die dood opgewek het. Dit is ’n krag wat ons in staat stel om vas te staan te midde van die storms van die lewe en om die duisternis te verlig met die stralende lig van sy liefde.
Laat ons die opstandingskrag wat deur ons vloei, uitleef en sodoende ander inspireer om op te staan en in die lig van sy waarheid te wandel. Mag ons nooit die betekenis van sy opstanding vergeet nie; dit is nie net ’n historiese gebeurtenis nie, maar ’n persoonlike ingrype in ons lewe.
Deur Hom word ons nie net gered nie, maar ook vernuwe, herstel, en bemagtig om te leef, hier en nou. Laat ons dus met vrymoedigheid opstaan, en lewe as kinders van die opgestane Heer. Laat ons opstaan en leef in die hede, want ook hier leef God.
Ds Mariët Robbertze, Kempten