Markus 8: 31
Jesus begin eers ná Petrus se belydenis in Markus 8 om met sy dissipels oor sy komende lyding en dood te praat. Dit is ’n keerpunt. Tot dusver het hulle Hom gevolg met hoop op oorwinning en verandering. Die tipe verandering wat hul wêreld sou omkeer: Rome sou val, die tempel sou herstel word, Israel sou weer ’n volk met status en krag wees.
Maar Jesus se woorde sny dwars teen hul verwagtinge in. Die Seun van die mens moet ly, verwerp word, doodgaan en dan opstaan. Dit is nie wat Petrus of enige van hulle wou hoor nie. Want as Jesus inderdaad die Messias is, hoe kan dit wees dat Hy só eindig?
Hier word God se pad vir verlossing duidelik: dit is nie die pad van mag en sukses nie, maar die pad van oorgawe en opoffering. Dit is nie ’n tragiese draai in die verhaal nie, dit is die hart van die evangelie self.
Ons maak vandag dieselfde fout as wat Petrus destyds gemaak het. Ons wil hê God moet by ons planne inpas. Ons soek ’n geloof wat ons van lyding red, nie een wat ons deur lyding dra nie. Maar Christus leer ons dat lyding nie ’n afwyking van die plan is nie; dit ís die plan. Die pad na lewe loop deur die dood. Die pad na genesing loop deur gebreek wees. Die pad na vreugde loop deur trane.
Dis ’n harde waarheid, maar ook ’n bevrydende een. Want as God juis daar werk waar dinge uitmekaarval, dan hoef jy nie eers heel te wees voordat jy Hom raakloop nie. Jy kan Hom volg soos jy is, met jou vrees, jou vrae en jou kruis.
Gebed
Here Jesus, ek wil U nie volg net wanneer dit maklik is nie. Lei my op die pad van gehoorsaamheid, selfs as dit deur lyding gaan. Help my om u plan bo my verwagtinge te kies. Amen.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos