Efesiërs 6: 10-18

Ons het altyd as studente wanneer ons ’n moeilike vak soos Grieks geskryf het, mooi aangetrek vir die eksamen. Dit klink dalk soos iets dom om te doen, maar wanneer ’n mens in die lewe met iets wat nie baie lekker is nie gekonfronteer word, voel ’n mens dikwels alreeds nie goed oor die situasie of oor jouself nie. Dit het ’n invloed op jou gemoed, en jy het glad nie lus om die take wat jy moet doen, af te handel nie. As jy egter mooi aangetrek is, voel jy al klaar beter oor jou voorkoms. Dit bring ’n verandering in jou gesindheid en gemoed. Daar is ’n Engelse gesegde wat sê: Get up, dress up, show up.

Dit het my laat dink: Ons is nie altyd lus om Christene te wees nie. Ons is nie altyd lus om God se liefde teenoor ander uit te leef nie. Ons is nie altyd lus om vir ander om te gee as ons self nie goed voel nie.

Is daar iets wat ons kan aantrek vir die taak om gelowige te wees? Ons sien hier dat Paulus vir ons ’n hele uitrusting gee om aan te trek. Dit gaan dalk nie die taak lekkerder maak nie, maar dit rus ons toe om te doen wat ons moet doen. Wat is dit wat ons moet aantrek? Wat is dit wat ons moet doen? Ons moet lewe soos kinders van God wat vas staan teen die aanslae van die duiwel. Ons moet as’t ware die Engelse spreekwoord uitleef: Get up, dress up, show up. Ons moet beklee word met die liefde van Christus in ons optrede teenoor ander. Wanneer ons hierdie wapenrusting aantrek, is ons gereed vir ons taak as Christene. Dit herinner my aan wie ek gemaak is om te wees in Christus. Ons moet elke dag kies om ons wapenrustings aan te trek, om te gee waar dit nodig is, liefde te betoon waar dit nodig is, en elke dag die goeie nuus, die evangelie, te verkondig.

Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank