Matteus 5: 14-16
Die woorde: Hou moed, Jesus is ons lig in hierdie wêreld, moedig ons in moeilike tye aan. In Matteus 5 lees ons: Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matt 5: 14-16).
Gelowiges moet ’n lig in hierdie wêreld wees soos wat Jesus was. Maar hierdie lig van Jesus was ’n ganse iets anders. Daarom moet ons as gelowiges volg in die voetspore van Jesus om ook op só manier iets anders in hierdie wêreld te kan wees en daardeur ons lig te laat skyn. Ons moet as gelowiges wat beelddraers van Jesus is soos ’n rigtingaanwyser na Hom toe wys as mense ons sien en beleef. Ons kan dit slegs doen deur afhanklik van Jesus te wees deur die leiding wat aan ons gebied word sodat ons in dié rol kan groei.
Hierdie rol verg iets anders en dan bring ons iets anders na die wêreld rondom ons, naamlik die lig van Jesus. Ons is geroep om anders te wees. Soos wat ons aan die rand van hierdie nuwe jaar staan, moet ons onsself vra: Vertolk ek die rol van iets anders in hierdie wêreld soos wat Jesus het? Mag ons harte VONKK-lied 523 sing: Ek weet ek’s nie volmaak nie, maar weet dat U oorwin het. So neem my hart, my lewe, voltooi wat U begin het. Ek lê my voor U neer om anders te wees…
Gebed
Genadige en liefdevolle God, dankie dat ons beelddraers van U kan wees. Lei ons soos wat ons probeer om die lig te wees waar dit donker is in hierdie wêreld. Amen.
Ds Iwana Kruger, Pretoria-Oos