Johannes 14: 26 (AFR2020)

Maar die Voorspraak, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.

Jesus belowe die gawe van die Heilige Gees aan sy dissipels. Hy verwys na Hom as die Voorspraak. Watter diepgaande gerusstelling vir gelowiges! Jesus nooi ’n mens uit om in ons gejaagde lewe te gaan stilstaan en rondom ons God se voorsiening raak te sien. Ons is nie aan ons eie lot oorgelaat nie. Die term advokaat dui op ’n helper, ’n berader, ’n ondersteuner. Die Heilige Gees is nie net ’n Goddelike teenwoordigheid nie, maar ook persoonlike Gids wat saam met ons op ons geloofsreis is. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees is nie net ’n Goddelike krag daar iewers buite in die ruimte nie, maar ’n aktiewe Deelnemer in die lewe van elke gelowige. Die Heilige Gees is ’n konstante hier-binne-in-my-wees wat in elke oomblik vertroosting en leiding verskaf.

Maar dis nie al nie. Die belofte in Jesus se woorde onderstreep ook dat die Heilige Gees deur die Vader, en in Jesus se Naam, gestuur is. Dit beteken dat die volle Drie-eenheid in my aanwesig en aan die werk is. Dit is die Vader se liefde, die Seun se genade, en die Heilige Gees se konstante binne-my-wees wat kragtig verlossing en vertroosting in my bewerk. Daarom het ons nie meer ’n verskoning om sonde te doen nie. Ons het, binne ons, die leiding van die Heilige Gees wat ons wys en leer wat die wil van God is soos wat Hy dit in en deur Jesus Christus bekend gemaak het.

Ons is dus totaal afhanklik van die Heilige Gees, ja, selfs om te kan glo. Dis die Gees – en niks of niemand anders nie – wat in my ’n onderskeidingsvermoë bewerk wat nodig is om my Christelike geloof uit te leef. Dit is die Gees van God wat ons deur die lewe navigeer.

Raak dus vandag ’n oomblik stil… en word bewus van ’n dieper teenwoordigheid in jou.

Ds Dawie Jacobs, Emeritus