Psalm 93

Met trompetgeskal word die koms van die Koning aangekondig. Die dag van die Here word met die ramshoring aangekondig. In hierdie Psalm word gefokus op God as die Skepper en Onderhouer van die skepping. Hy regeer. Hy is Koning. Kenmerkend is sy majesteit, grootheid en sterkte. Dit staan vas van ewigheid af. Daar is meer aan God se heerskappy as menslike kaskenades en aksies en verwoesting.

Die Psalmdigter beeld die seestrome en branders uit met kenmerke wat vir die mense bekend sou wees. Branders het ’n stem: Dit maak geraas en elke branderslag en dreuning maak ’n mens onrustig. Vir die antieke mens was dit vreesaanjaend. Dit is ’n malle gejaag, maar die troos is die besef dat selfs in die chaos, die waters die Skepper gehoorsaam. God is in beheer van die natuur. Hy veroorsaak nie rampe nie. Die skepping volg sy eie paaie en ritmes.

In Suid-Afrika is ons ook bekend met water: die watermassas van watervalle in die reënseisoen, en vele ander. Daar is wêreldwyd vele weerveranderinge, maar weerveranderinge en aardbewings funksioneer volgens hul eie stel reëls. Die probleem is egter die mens self. Met oorbevolking en groeiende bevolkings is ons lankal nie meer net migrerende spesies op aarde nie. Mense leef op plekke waar ons ook die negatiewe kant van die natuur beleef. Dit sien ons telkens met vloede en oorstromings, soos die afgelope tyd in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Mens en dier loop deur.

Soms is dit onverklaarbaar, maar soms word dit deur die mens self veroorsaak. Die mens bly onbevoeg om die chaos van die natuur te keer of baas te raak en te beheer. Hy wat skep en beheer, sorg, en die mens het die verantwoordelikheid om te versorg, te bewaar en te waardeer. Sy sorg is vir ons genoeg. Daarvoor dank en eer ons Hom as Skeppergod van die groot heelal.

Al u verordeninge staan ook vas. U bly, U, wat van altyd af daar was.

En heiligheid versier u huis, o Heer, U, wat in ewigheid sal bly regeer.

(Psalm 93: 5)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad