Openbaring 1: 1-6
Die Drie-eenheid van God is een van die moeilikste leerstellings om te verduidelik. Hoe kan God gelyk een en drie wees? Die Drie-eenheid is ’n konsep wat onmoontlik is vir enige menslike wese om volledig te verstaan, om nie eens te praat van verduidelik nie. God is oneindig groter as ons, daarom behoort ons nie te verwag dat ons ooit in staat sal wees om Hom volledig te verstaan nie. Mense van die Weg is daarvan beskuldig dat hulle eintlik drie gode gedien het. Ons moet in gedagte hou dat die woord drie-eenheid nie in die Bybel voorkom nie.
Verskillende verduidelikings is oor die jare gebruik om die Drie-eenheid van God te verduidelik. My Sondagskool-juffrou het verduidelik dat water in verskillende vorme voorkom: Water kan byvoorbeeld ’n vloeistof, ’n vaste stof (ys) en ’n gas (stoom) wees. Prof Kobus Kok verduidelik die Drie-eenheid van God aan die hand van ’n appel wat bestaan uit ’n skil, die vleis van die appel en die stronk. Die drie verskillende dele is almal appel, maar het verskillende funksies en gestaltes. Ek, Hannes, is byvoorbeeld altyd net een mens, maar soms is ek my vrou se man, ander kere my seun se pa, en nog ander kere my gemeente se predikant. Die drie funksies is almal een persoon, maar het verskillende funksies en gestaltes.
Lees ons van Genesis tot Openbaring deur die Bybel, vind ons oral die Drie-eenheid van God. In Genesis 1: 1-3 word by die skepping van die hemel en die aarde gepraat van God en die Gees van God, maar die basis vir die ontwikkeling van die idee is in die Nuwe Testament gevind. Een van die belangrikste tekste wat op die Drie-eenheid dui, is Matteus 28: 19: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Die boek Openbaring praat nie net duidelik oor gemeentes en oor die werklikheid van die Bose nie; die boek praat selfs nog duideliker oor die Drie-enigheid van God. Kom ons ondersoek dit.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding