Genesis 1: 1-31

Na die eerste woorde van Genesis 1 volg ’n beskrywing van die aarde voor God begin skep. Die aarde word as vormloos en onbewoonbaar (tohô wawohô) beskryf. Dus het God nie uit niks geskep nie, maar hierdie neem niks weg van die wonder van die getuienis van God as Skepper in Genesis 1 nie. Inteendeel, om te lees hoe die aarde hier beskryf word en dan die res van Genesis 1: 1-31 fyn te lees, belig die ontsagwekkendheid van God as Skepper. Genesis 1: 1-31 bevat wonderlike struktuur en ritme. Daar is ’n patroon wat herhaal. God het gesê… (Gen 1: 3, 6, 9, 11, 14, 20, 24, 26) gevolg deur wat God skep en elke keer eindig een skeppingsdaad met: En dit was aand en dit was oggend/dag… (Gen 1: 5, 8, 13, 19, 23, 31). Verder kan die skeppingsdade in twee dele ingedeel word. Dag 1, 2 en 3 gevolg deur dag 4, 5 en 6. Dag 1 en 4, 2 en 5, en 3 en 6 gaan saam. Vir die eerste drie skeppingsdade word die vormloosheid van die skepping deur God aangespreek. God bring skeiding tussen lig en duisternis (Gen 1: 3-5), tussen waters bo die hemele en onder die hemele (Gen 1: 6-8), en tussen droë grond en die oseane (Gen 1:9–11). Voorbereiding vir die bewoonbaarheid van die aarde begin ook op Dag 3 deur die skepping van plante (Gen 1: 12-13). In die volgende reeks van drie dae vul God elkeen van hierdie gevormde plekke, die onbewoonbare word bewoonde plekke, daar is die groot en klein hemelligte asook die sterre (Gen 1: 14-19), die seediere en voëls (Gen 1: 20-23), en die diere wat krioel op die aarde saam met die mens (Gen 1: 24-31). Genesis 1 vertel nie dat God uit niks geskep het nie, maar eerder dat daar waar die skeppende krag van God werksaam is, verander vormloosheid en onbewoonbaarheid in ’n florerende lewe vol potential en moontlikhede. Hierdie is die wêreld waarin ons vandag leef, en ook aangestel is om na om te sien.

God, ons dank U vir hierdie skepping vol lewe en potensiaal wat U aan ons geskenk het.

Dr Robert J van Niekerk, Universiteit van Pretoria