Eksodus 33: 7-23 (AFR2020)
Moses en die volk is opsoek na veiligheid en sekuriteit nadat hulle Egipte verlaat het. God het immers belowe dat hulle ’n nageslag sou hê. Die episode van die goue kalf veroorsaak dat hulle God se persoonlike teenwoordigheid ontbeer.
Moses het die ontmoetingstent opgerig, en hier praat God direk met Moses. Die verhouding tussen Hom en die volk is wankelrig. Hulle het drie pleidooie. Die eerste is om die Here te ken. Waarop Hy antwoord: Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee (Eks 33: 14)? Hier skemer iets deur van Moses se skeidingsangs van God. Sy behoefte is die teenwoordigheid van die Here.
Die tweede is vir die voortgaande teenwoordigheid van die Here. Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou naam ken (Eks 33: 17). Moses wil die Here op ’n dieper manier as tevore ken. Nou ontdek hy dat hy geken word.
Die derde is om die heerlikheid van die Here te sien, maar daar is die goddelike weiering. Moses se angstigheid is nie weg nie. Hy wil nie net ’n belofte hoor nie, hy wil die heerlikheid sien. Hy soek sekerheid. Op hierdie versoek is die goddelike respons een van weiering en op ’n vreemde wyse ook ’n toegewing. God onthul nie sy heerlikheid nie, wys nie sy gesig vir Moses nie.
Hy kan nie verklaar word nie. Hy word ook nie vasgevang in gedagtes of skemas nie. Hy plaas Moses in ’n rotskeur en bedek sy oë. Dan beweeg Hy in sy heerlikheid by Moses verby. Wanneer Hy sy hande wegneem, sien Moses die Here van agter. God wys nie sy gesig nie. Hy wys sy karakter en goedheid. Ons ken maar ten dele, maar God ken ons ten volle. Aan ons onthul dié misterie van sy liefdeshart. Hierdie Here is vry, en gebruik sy vryheid om genade en liefde te betoon, om te vergewe en om af te sien van sy toorn. Mag jy vandag sy verborge heerlikheid beleef.
Ds Kathleen Smith, Kaapstad