Markus 1: 12-13

Die woestynareas in ons lewens is gewoonlik die plekke en situasies waar ons alleen voel. Dalk selfs ietwat Godverlate voel. Die woestyntye is die seisoene en in die lewe wat ons met alle mag probeer vermy of so gou as moontlik verby kry. Lydenstyd is by uitstek die tyd in die kerklike jaar waar ons in hierdie woestyntye en seisoene ingenooi word. Om opnuut bewus te word van die tekorte, leemtes en ongemak. Ons word gekonfronteer met die seisoen wat nie altyd openhartig verwelkom word nie.

Jesus se versoeking in die woestyn is welbekend. Dalk so welbekend dat daar maklik oor die eerste paar verse gelees word. Die verse wat juis getuig dat Jesus die woestyn in is onder leiding van die Heilige Gees of dat engele hom versorg het. Jesus het nie die woestyn vrygespring nie, maar was ook nie alleen in die woestyn nie. Jesus was nie aan sy eie genade oorgelaat nie. Beide die misterie sowel as die wonderwerk van hierdie versoeking in die woestyn is dat Jesus steeds aan sy lyf die tekort, leemtes en ongemak gevoel het maar nooit werklik alleen gelaat was nie.

Op dieselfde manier beleef ons woestyntydperke in ons lewens. Dit kan maklik gebeur dat die pyn en ongemak van die oomblik ons verblind om enigsins verder te sien of op te merk. God verlaat ons nie. Dit beteken nie dat ons die woestyntydperke gespaar word nie. Die Bybel is vol verhale waar bedienings gebore word en karakters gevorm word juis in die woestyn. Die gerusstellende sekerheid wat ons het is dat God wel met ons bly. Hierdie behoort ons die vrymoedigheid te gee om die woestyntye nie om te wens nie maar ook daarin God se nabyheid, teenwoordigheid en versorging op ’n vars manier te leer ken.

Ds Thomas Dreyer, Malelane