Romeine 8: 12-17

Wat is gebed? Dit is ’n geldige vraag. Die Here Jesus sê dat die Vader weet wat ons nodig het. Is dit dan nodig om te bid? Gebed is die vrug van ons verhouding met God. Net soos wat kommunikasie die bewys van ’n verhouding tussen eggenote is, so is gebed die bewyse van ons verhouding met God. Sonder kommunikasie kan daar immers nie gepraat word van ’n verhouding nie.

Wat is die doel van gebed? Die doel is nie om die Here se arm te draai nie, ook nie ’n versekeringspolis wat jy opbetaal om te verseker dat geen ellende oor jou pad kom nie. Gebed kan met ’n selfoon vergelyk word. ’n Selfoon moet gelaai word om sy funksie te verrig, so ook die mens. Ons moet gelaai word, maar ons word gelaai deur gebed om ons groot werk op aarde te doen, om as ware kinders van God op aarde te lewe.

Dit is die wonderlike van die geloof. Dat God in sy groot genade dit moontlik gemaak het dat enige een van ons, op enige tyd, deur slegs ons oë toe te maak, gelaai kan word met die krag wat ons kort vir elke dag. Hoe gebeur dit? Deur die inwoning van die Gees. Wanneer ons bid is dit die Gees wat hierdie brug slaan tussen ons en God. Dit is die Gees wat ons oortuig dat ons gebede nie woorde is wat vasslaan teen ons plafon nie, maar wat opstyg tot die troon van die Vader.

Daarom wanneer ons die Onse Vader se eerste bede bid is: Onse Vader wat in die Hemel is, laat u naam geheilig word (Matt 6: 9, AFR2020), nie alleenlik ’n aanspreek vorm nie. Dit is ’n versugting. Dit is eerder: Here herlaai my pap battery dat ek as u kind kan lewe. Maak my hande sterk dat almal op aarde kan sien dat u kinders ’n liefdevolle, genadige Vader het wat in die Hemel is. Amen.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico