Johannes 20: 11-18

Dit kan dikwels gebeur wanneer ons met mense praat, dat ons die indruk kry hulle verkies om nie nou hier te wees nie, en hulle glo werklik dat hul beste jare is verby, of dat dit nog op pad is as sekere goed net eers in plek val. Met hierdie gedagte moet ons dalk loer na Jesus en Maria se eerste ontmoeting ná sy opstanding.

Ons moet nou onthou dat Maria ’n merkwaardige lewensverhaal gehad het. Jesus het haar van sewe bose geeste bevry voordat sy haarself aan Hom toegewy en gevolg het. Sy het saam met Hom beweeg en baie gesien van die wondere, genesing en herstel wat Hy aan die wêreld gebring het. Daarom kan ons verstaan dat sy stukkend was ná Jesus se kruisiging, want dit het waarskynlik gevoel of alles waaraan sy haarself nou toegewy het, en waar sy nou haar identiteit gevind het, binne ’n paar uur verwoes is.

Toe verskyn Jesus aan haar en ons kan ons amper voorstel dat sy in ekstase, maar ook groot verligting, kon uitroep en Jesus vasgryp want nou kan alles weer wees soos wat dit was. Hulle kan voortgaan waarmee hulle besig was en hul lewens kan terugkeer na normaal. Maar Jesus beveel dat sy Hom moet los? Sy antwoord is dan dat alles juis nie weer normaal is nie; alles is anders. Sy Vader is nou ons Vader en sy God is nou ook ons God. Maria moenie aan Hom bly vashou nie, want sy moet juis hierdie nuus van alles wat verander het, gaan verkondig. Sy moet met ander woorde die goeie ou dae nou los, sodat sy kan deel wees van die nuwe wat Jesus gebring het.

Ek glo dat dit ook ’n boodskap vir ons is. Om die lewe wat die Here vir ons skenk ten volle te leef, moet ons ten volle teenwoordig wees. Ons kan nie bly vashou aan wat gister was nie, ons moet juis opstaan om te kan getuig van God se liefde en Jesus se opstanding in die oomblik wat ons nou het. Gister is verby, en môre is in God se hande, maar vandag skenk God in vertroue aan ons. Kom ons staan op en gebruik vandag om te vertel hoe God die wêreld verander.

Ds Schalk Zastron, Ermelo / Ermelo-Suid