Esegiël 37: 2-3

Alhoewel hierdie tyd van die jaar as besig beskou word, is dit ook ’n tyd vir refleksie, afwagting en verwagting. Ons dink terug aan die afgelope jaar – die goeie en die slegte tye. Ons droom oor die nuwe jaar met al die moontlikhede wat dit inhou. Ons wil glo dat dit in die nuwe jaar beter sal gaan, maar soms voel ons ook soos die droë bene in die laagte… Fisies, emosioneel en/of geestelik droog.

Ten spyte van die die swaarkry wat God se volk verduur, sien Esegiël wel vir God raak, maar God is só heilig, dat dit hom eintlik moedeloos maak. Want sy mense is so vol sonde, so vol onreg, so vol slegte bedoelings, dat hy regtig nie weet wat hy moet maak nie. Onthou dat die Here tot op hierdie punt vir Esegiël ’n klomp visioene gegee het; kyk gerus van hoofstuk 1 tot hoofstuk 36. Meestal was dit visioene van oordeel, maar nou is dit die tyd vir visioene van hoop en verlossing.

Wanneer ons na Esegiël se interessante antwoord kyk (vers 3), sien ons dat hy nie vaskyk in die laagte nie, hy staar ook nie na die dooie, droë bene nie. Hy kies om op God te fokus. Sy antwoord in vers 3 fokus dus nie op die uitdagings wat letterlik en figuurlik voor hom lê nie, maar op God.

As jy na die jaar kyk wat verby is – as jy uitgeput voel, of moedeloos raak met jouself, want dit is wat sonde aan ons doen. is dit wonderlik om hierdie antwoord te hoor. Hoekom? Want Esegiël paai ’n mens nie met goedkoop troos nie. Esegiël gee nie mooi antwoorde of valse hoop nie – hy fokus bloot op die almag van God.

Mag jy, terwyl jy in die laagte staan, besef dat verandering by God begin. Dit is God wat besluit om vir droë bene nuwe lewe te gee. Dit is God wat besluit om ’n toekoms vir dooies aan te kondig.

Ds Yolandé de Lange, El-Flora