Psalm 42
Om te groei in die genade is ’n Bybelse uitdrukking wat ons vind in 2 Petrus 3: 18. Die onderwerp van geloofsgroei bly belangrik vir ’n Christen. Ons plaas gewoonlik in vandag se lewe so baie klem op die fisiese en breinontwikkeling van ons kinders dat ons soms vergeet om te vra oor hul geestelike of spirituele ontwikkeling. Baie kere word hierdie onderwerp beskou as ’n misterie. Ons weet iets van hoe die liggaam groei, en bene wat kalsium nodig het, maar geestelike groei word gereeld afgemaak as die verantwoordelikheid van die Gees, en die weg van die Gees is nie altyd so rasioneel nie.
Verder verskil ons in spiritualiteit. Party mense is gemaklik daarmee om ’n kers aan te steek en kontemplatief te werk te gaan met die geestelike dissiplines in hul lewe. Ander mense sukkel om hierdie konnotasie te maak en verstaan dit eerder rasioneel. Maar dit maak die taak of die opdrag van die gelowige nie minder nie. Wat jy ook al dink of voel, jou taak is een van losmaking van die sondige, die afsterwe van die ou mens en die nuutgeboorte van die nuwe. 2 Korintiërs 4: 16 sê: Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons word genooi op ’n inwaartse reis.
Dit is ’n inwaartse reis na die diepte wat iemand ondergaan. ’n Reis waar ons genooi word van Bo. Nie noodwendig altyd na buite nie. Hierdie tipe lewe is nie ’n lys van godsdienstige pligte nie. Ons doel as gelowiges is: Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie (Jak 1: 17).
Richard Foster sê elke gelowige word geroep om (soos die digter van Ps 42: 8 dit stel) vanuit die diepte (God) na die diepte inwaarts te reis. Kom ons hou aan met hierdie reis sodat ons ook inwaarts en opwaarts kan groei.
Dr Hein Delport, Swartkop / Hervormde Teologiese Kollege