Markus 11: 1-11 (AFR2020)

Geskiedkundiges wys vir ons uit dat daar nog ’n ander intog ook tydens die Paasfees plaasgevind het. Waar Jesus aan die oostekant van Jerusalem gekom het, het Pontius Pilatus aan die teenoorgestelde kant, die westekant, Jerusalem binnegegaan. En soos ’n mens jouself net kan indink, was dit ’n groot magsvertoon.

Aan die oostekant van Jerusalem kom die Seun van God. Daar is geen magsvertoon nie soos die profesie in Sagaria 9: 9-10 dit al beskryf het: Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en oorwinnaar, nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie (Sag 9: 9). ’n Donkie was veral in die Ou Testament, die simbool van nederigheid en koninklike waardigheid. Ons vind ’n skrille kontras tussen die magsvertoon van Pontius Pilatus en die nederigheid van Jesus.

Palmsondag is baie uniek in die Lydenstyd, want dit is ’n dag van kontraste. Op Palmsondag herdenk ons die intog van Jesus in Jerusalem. Ons is verheug, maar tegelykertyd weet ons van die lyding van Christus wat volg. Jesus het nie gekom om die koninkryk van mag te vestig nie. Jesus wou nie ’n politieke en militêre leier wees nie.

In die koninkryk van die wêreld word mag misbruik en word mense gewoonlik onderdruk soos te sien in die Romeinse ryk en soos ons ook in Pontius Pilatus se magsvertoon sien. Jesus wou ’n ander koninkryk vestig. Dieselfde mense wat vir Jesus juigend tegemoet gekom het, het vinnig agtergekom dat Jesus nie belangstel om ’n rebellie te begin nie. Jesus wou nie deel wees om ’n koninkryk van mag te vestig nie en dit het nie by hul idee van ’n koning ingepas nie.

Jesus het gestaan vir ’n koninkryk anders as dié van die wêreld – die koninkryk van God. In hierdie koninkryk is daar nie magsmisbruik nie. In hierdie koninkryk is daar vrede. In hierdie koninkryk sal jy vind dat die Koning nederig op ’n donkie ry. Juis omdat hierdie koninkryk radikaal anders as die tipiese koninkryk van die wêreld is, sal baie daarteen gekant wees.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam