Johannes 3: 16-21
Advent 2025 is hier. Ons betree nou die tyd waarin ons as gelowiges ons voorberei vir die geboorte van Jesus Christus, ons Verlosser en Heer. Dié tydperk herinner ons ook weer opnuut aan die verwagte wederkoms van Jesus. Advent begin vier Sondae voor Kersfees, en die algemene temas vir hierdie vier Sondae wat oploop tot Kersfees is hoop, vrede, vreugde en liefde.
Kersfees het ’n besonderse plek in gelowiges se lewens; ons elkeen interpreteer en vier dit dalk anders. Elke familie het mos maar sy eie Kersfees-tradisies. As ons na die heel eerste Kersfees gaan kyk en ons lees die Johannes-teks, met die klem op Johannes 3: 16 – Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1953 OAV) – sien ek een woord raak wat die kern van Advent en veral Kersfees kan wees.
Die woordjie gee – ons God is ’n gewer, nie ’n nemer nie. God het my en jou so lief dat Hy sy Seun vir ons gee. Om te gee, is wat liefde doen. Liefde is nie moontlik as jy nie iets van jouself gee nie. Daar is ’n mooi spreekwoord wat sê: Jy kan gee sonder om lief te hê, maar jy kan nie liefhê sonder om te gee nie.
God gee aanhoudend, Sy vrygewigheid is onmeetbaar, nimmereindigend, aanhoudend en onkeerbaar. In die boek Klaagliedere beskryf die skrywer die God wat gee deur te sê: U genade is nuut elke môre. God hou nie op om te gee nie. Dit is asof Hy nie ophou om genade oor ons uit te stort nie. Met Advent wat voor ons lê, sien ons telkens God se liefde en genade. Daardie uitsien, daardie opbou tot Kersfees, herinner ons maar net weer dat ons ook introspeksie moet doen oor dit wat ons in liefde vir mekaar gee, maar bo alles oor ons liefde vir God, ons genadige Vader.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos