Hebreërs 13: 20-25
Ons herdenk tans God se werk in die skepping. In sowel die Ou as die Nuwe Testament word skepping en herskepping verbind. Ons gaan vervolgens teksgedeeltes gebruik waar aspekte van ’n nuwe lewe of ’n oorbegin beskryf word, en besin oor hoe die Skepper, ook in ons lewens, telkens weer herskep.
In Hebreërs 13: 20-21 bind die skrywer twee gedagtes aan mekaar: God se opstandingswerk, waardeur Jesus Christus uit die duisternis van die dood na die regterhand van God geneem is, en God se werk in die mens, die wyse waarop Hy dit wat vir Hom aanneemlik is, in die mens tot stand bring. Die brief is gerig aan ’n groep Joodse Christene om hulle in ’n tyd van vervolging en verdrukking teen verslapping in die geloof te waarsku. Hy sluit die brief af met die gedagte dat dieselfde God wat Jesus terugbring van die dood, in die lesers die goeie tot stand sal bring en hulle stewig in die geloof sal anker. As die anker stewig is, sal hulle die felle aanslae oorleef.
Besoekers aan Japan is gewoonlik verstom oor die welige subtropiese plantegroei wat hulle selfs in die ysige winters daar aantref. Hulle verstaan nie hoe die palm-, bamboes- en lemoenboom floreer terwyl die ysige sneeuwinde waai nie. Wetenskaplikes verklaar die verskynsel aan die hand van die lewendige vulkaniese aktiwiteite op die eiland. Dit is dus heeltemal moontlik dat dit in die ysige omstandighede nog warm onder die aarde se oppervlak is, waar die plante en bome se wortels is. So bemoedig die skrywer van Hebreërs: Ten spyte van vervolging en ontbering, is julle stewig geanker in God wat julle geroep het en die goeie in julle vestig, dieselfde God wat Jesus Christus uit die dood terugbring. As julle elke dag nuut en herskep lewe, is dit asof julle ook as’t ware uit die dood teruggebring is.
Gebed
Dankie, Here, dat ook ek ten spyte van al die aanvegtinge in my geloof stewig in U geanker kan wees en dat U ook in my die goeie tot stand bring. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort