Jesaja 11: 1-9

In hierdie tyd van Epifanie kyk ons na die impak wat Jesus se lewe en bediening op die gelowiges van sy tyd en alle eeue gehad het. Jesus vernuwe ook ons denke oor die skepping van God. Dit is ons tema vir hierdie week.

Die wisseling van seisoene, en die nuwe lewe wat dit bring, verras ons. Ons bely dat hierdie gebeure nie maar net die werking van die natuur is nie – ons sien die skeppende hand van God daarin.

Die agtergrond van Jesaja 11 is die dreigende ballingskap van die volk Israel, die profeet sê dat die oordeel vir Israel onafwendbaar is. Maar selfs in hierdie aankondiging is daar ook weer reeds ’n belofte van herstel – alles gaan nie vernietig word nie. Daar is ’n oorblyfsel wat sal oorleef.

Dit is belangrik om die beskrywing van die nuwe lewe wat in die takkie kom, te verstaan. Daar is drie momente in die nuwe lewe wat in die takkie kom: die eerste is dat die takkie uitspruit, dit kom in beweging, dit kom na vore. Daar is ’n wil om weer te groei. Nadat die takkie uitspruit, skiet dit wortel en dan in die derde plek dra dit weer vrugte.

Ons leer in hierdie gedeelte dat alhoewel God ons in beweging wil bring, dit tog ons is wat moet beweeg en na vore moet kom. Vir hierdie nuwe moontlikheid op lewe moet daar nuwe vastigheid wees, moet ons weer stewige geestelike wortels hê en moet ons dan in die derde plek gaan om weer nuwe vrugte te dra sodat almal die nuutheid wat God in ons bewerk, kan sien.

Gebed

Here, dankie dat ek ook altyd weer nuut en herskep kan wees net soos wat U telkens in die natuur nuwe lewe kan bring. Help my om te verstaan dat ek na vore moet kom om u nuutheid te aanvaar, sterk geestelike wortels moet hê en vrugte moet dra.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort