Johannes 20: 19-25
Ons is geskape met sintuie wat ons in staat stel om die skepping waar te neem en met mekaar te kommunikeer. So kan ons sien, hoor en dinge waarneem wat om ons gebeur. Ons gaan die volgende paar dae kyk hoe die opstanding van Christus nuwe inhoud en betekenis aan die lewe gegee het en ook ons vermoë om dit waar te neem.
Om te kan sien is ’n groot voorreg. Dit gebeur somtyds dat ’n mens se sig verswak wat tot gevolg het dat jou bril aangepas moet word. Die genade om goed te kan sien, kan nie genoeg beklemtoon nie.
Met Jesus se opstanding verskyn Hy aan die dissipels, maar Tomas, wat Didimus genoem is, was nie tydens die Sondagaand teenwoordig nie. As hy dan hoor dat Jesus opgestaan het en aan die ander dissipels verskyn het, sê hy dat nie sal glo as hy nie self gesien het nie. Hy wil self sien. Hy wil met sy eie oë sien. Sien is glo. So paar dae later, kry hy dan ook die geleentheid om Jesus te kan sien en dan maak sy twyfel plek vir ’n volledige belydenis.
Wat is daar wat verhinder dat ons nie die genade van Christus kan sien nie? Die uitdagings en seer in die wêreld belemmer dikwels ons vermoë om die grootheid van Christus te sien. Ons eie swakheid maak ons blind vir Christus se teenwoordigheid. Ons is dikwels geneig net die verkeerde raak te sien en op die seer te fokus.
Mag die opstanding van Christus ons lewe so verander dat ons met nuwe oë na die wêreld om ons kyk. Mag ons elke dag raaksien hoedat die Here ons lewe aanraak, hoedat die Here besig is om gebede te verhoor. Mag ons raaksien dat Hy in beheer is. Mag die wêreld ook sien dat die Here lewe en dat sy genade vir ons genoeg is.
Moenie blind wees vir die teenwoordigheid van Christus in jou lewe nie.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas