2 Korintiërs 9
Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes (2 Kor 9: 6).
Dankdag vir die Oes of Biddag vir die Gesaaides gaan dikwels ongesiens verby omdat dié van ons wat nie boere is nie, dink dat ons nie aan hierdie dag deel kan hê nie. Tog gaan dit oor soveel meer. Ons is elkeen besig om in ons daaglikse lewe te saai en te oes. Deur dit wat ons sê en doen, is ons besig om te saai. Ander se optrede teenoor ons, is dit wat ons oes, want hul optrede word bepaal deur ons doen en late – selfs net ’n gesigsuitdrukking. Dankdag vir die Oes of Biddag vir die Gesaaides gaan dus ook oor mense.
Dit gaan oor mense met minder as ons of mense met groter probleme as ons, want dit is juis hierdie mense wat in die krake van die lewe verdwyn. Baie wat honger is, swaar kry, werkloos en bekommerd is, word nie meer raakgesien nie, deels omdat ons so besig is met ons eie uitdagings of bloot omdat hulle uit skaamte wegkruip.
God bied egter aan ons ’n geleentheid om dit wat ons ontvang, ook weg te gee. Miskien laat jou situasie jou nie toe om ander te help met kos of klere nie, maar hierdie weggee strek soveel wyer as bloot materiële dinge. Ons ontvang daagliks God se liefde en genade in oorvloed. Ons kan – ons moet – dit ook met ander deel, want dit is wat God van ons vra. Ons vergeet dikwels dat gebede vir mekaar ook ’n groot geskenk is: om te bid vir iemand wie se woorde opgedroog het of vir mense wat so moedeloos is dat hulle dink hul gebede dra nie meer krag nie.
Mag ons wat soveel van God ontvang, uit dankbaarheid gee en ons God elke dag dank vir dit wat ons ontvang. Alles is slegs deur sy genade.
Gebed
Here, help ons asseblief om ook te saai sodat ons in mense wat minder as ons het, se lewens ’n verskil kan maak, liggaamlik en geestelik. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes