Handelinge 9: 1-19

Die verhaal van Saulus kan in met een woord opgesom word: genade.

Saulus het na Stefanus se dood die leiding geneem om Jesus se volgelinge selfs tot in die uithoeke van die aarde te soek om hulle te vervolg. Baie van Jesus se dissipels het na ander stede gevlug om die evangelie daar te verkondig. So is Saulus op pad Damaskus toe omdat hy gedink het hy sou die verspreiding van die Christendom kon keer as hy net die Christene van Damaskus kon uitwis.

God het anders besluit. Die lewende Christus het aan Saulus op sy reis na Damaskus toe verskyn. Daar en dan het hy die waarheid van die evangelie ontdek. God het op ’n kragtige manier in sy lewe ingegryp. Saulus kom nie net tot bekering nie, maar ontvang ook ’n roeping van God. God het ’n duidelike taak vir Saulus.

Saulus het Paulus geword en hy verwys kort-kort na hierdie gebeure as die begin van sy nuwe lewe in Christus. Jesus was die middelpunt van hierdie wonderlike ervaring. Daardie dag het Paulus besef dat Jesus die Here is en het hy sy lewe aan God onderwerp en besluit om Hom in alles gehoorsaam te wees.

Net soos wat God aan Saulus verskyn het en hom tot bekering geroep het, so roep Hy elkeen van ons ook om ’n lewe te leef wat vir Hom aanneemlik is. Bekering verander jou perspektief op die lewe. Skielik het Paulus anders na die volgelinge van Jesus gekyk – hulle was nie langer vyande nie, maar sy vennote in die Koninkryk van God.

Net so is ons ook vennote in God se Koninkryk, maar wat verklap ons optrede? Ondersteun ons mekaar? Is ons daar vir mekaar soos wat Annanias daar was vir Paulus, of ondermyn ons mekaar? Leef ons werklik ’n lewe van liefde, verdraagsaamheid, geduld en vergifnis volgens Jesus se voorbeeld?

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes