Dinge gebeur so vinnig in die wêreld van sosiale media dat daar ’n goeie kans is hierdie skrywe is reeds uitgedien teen die tyd dat dit gepubliseer word. Die aard van sosiale media is om intyds te wees – sonder filters.

Aanvanklik het almal gedink dit is ’n goeie idee. Mense wat werklik in nood was, kon onmiddellik hulp kry deur net ’n hulpkreet oor ’n sosialemediaplatform te stuur. Maar so goed as wat intydse kommunikasie is, so afbrekend kan dit ook wees. Geen foute kan meer toegesmeer word nie, en trek iemand dalk net ’n skewe gesig in ’n onnadenkende oomblik en dit word intyds gepubliseer, kan dié een oorval word met kritiek en afbrekende kommentaar.

Ongeag die nadele, die grootste voordeel is seker dat ’n mens met min moeite binne oomblikke ’n groot gehoor kan bereik. Dit is ’n maklike, moeitevrye en bykans kostelose medium van kommunikasie. Besighede, organisasies en individue gebruik dit met groot vrug om te kommunikeer en inligting te deel.

Een van die groot uitwerkings van grendelregulasies en inperking weens die korona-pandemie op gemeentewees, is dat tegnologie soos stromingsmedia, sosiale media en intydse kommunikasiemedia die hoofkanaal van bediening geword het. Sonder dat ’n mens dit besef, het tegnologie sinoniem geword met die gemeente se bedieningsmodel. Tegnologie het dit moontlik gemaak dat gemeentes lidmate virtueel kon bedien. Binne etlike weke na die eerste inperking kon reeds meer as 40% van die NHKA se gemeentes op die een of ander virtuele platform gevind word. Teenkanting teen virtuele bediening was min en die voordele het die nadele oorskadu.

Agter die tegnologie wat vir ons uit blote drukke op ’n skerm bestaan, is daar egter ’n ander wêreld van sy eie. Dit is die wêreld van die sagtewaremaatskappye wat hierdie tegnologie vervaardig en ontwikkel en dit tot ’n florerende bedryf omvorm. In daardie wêreld heers ’n tegnokrasie, en inligting is die verhandelingseenheid. Wie ook al die meeste kennis en inligting besit, sal die florerendste wees en die meeste mag in die bedryf besit. Die bedrae geld wat ter sprake is, laat ’n mens eenvoudig steier; maar waar groot geld is, is daar groot gevegte. Die besluite wat hierdie maatskappye maak, het ’n invloed op alle vlakke van die samelewing – enersyds op die politieke magspel van die grootste lande, en andersyds op die gewone gebruiker of organisasie.

Dit is wat aanleiding gegee het tot hierdie skrywe. ’n Groot besluit wat deur een van hierdie tegnologiereuse geneem is, het nou ’n potensiële invloed op die virtuele bedienings van gemeentes in die NHKA. Die inligting as verhandelingseenheid wat hierbo genoem is, is nie kennis van beter sagteware of beter programmeringsvaardigheid nie; dié inligting is die doen en late van die gewone mense in die samelewing. Mense se leefpatrone, bestedingspatrone, sentimente, voorkeure en afkeure is die waardevolste inligting in die bedryf. En al dink ’n mens die tegnologie word gratis beskikbaar gestel, is daar tog ’n prys, en die prys is ons eie privaatheid.

Hoeveel inligting is ons as individue bereid om met die wêreld te deel? Sekere inligting soos ons huisadresse deel ons graag, want brand my huis, wil ek nie hê daar moet tyd verspil word om die vuur te blus nie. Maar die grense tussen publieke inligting en private inligting is besig om te vervaag. Private inligting soos bankbesonderhede en wagwoorde moet beskerm word, maar publieke inligting moet gedeel word. Tot op hede het die meeste mense ingestem tot die voorwaardes wat neergelê word deur die maatskappye vir die toegang en gebruik van inligting, maar die nuutste besluite maak mense om verskeie redes ongemaklik, en nou word gesoek na alternatiewes. Daar is toenemend meer mense wat voel die gebruik van persoonlike inligting raak opdringerig, indringerig en arbitrêr, en dat dit lei tot die misbruik van inligting.

Die geslaagdheid van ’n gemeente se virtuele bediening hang af van die lidmate se deelname aan die netwerke of groepe wat deur die gemeente gebruik word. Indien lidmate vir watter rede ook al hul lidmaatskap van die bestaande platform wat die gemeente gebruik opgee, is dit amper soortgelyk daaraan dat hulle verhuis het na ’n ander land – skielik is hulle net nie meer bereikbaar nie. Gemeentes se bestaande platforms is met moeite op die been gebring en is reeds broos en onderhewig aan skielike veranderinge wat gedurige aanpassings verg.

Om van nuuts af te moet begin om netwerke op te bou en mense te oortuig om ander platforms en sagteware te gebruik vir die virtuele bediening, is ’n reuse-uitdaging. Die afgelope maand het mense oorgeskakel na ander platforms, maar gou het dit geblyk dat die gras aan die ander kant van die draad nie noodwendig groener is nie. Sekere platforms was oorweldig en nie meer stabiel nie, ander platforms se sogenaamde privaatheid van inligting blyk ook toe nie so voor die hand liggend te wees nie.

Hierdie skrywe gaan geensins die een platform teenoor die ander een opweeg nie. Daarvoor is daar reeds deur bykans elke nuusagentskap en dagblad ’n bydrae gelewer deur ’n kenner en analis. (Sien veral LitNet se tegniese analise in Afrikaans hier.) Waarvoor hierdie skrywe pleit, is om die invloed wat die afgelope maand se veranderinge van die tegnologie moontlik op die virtuele bediening van gemeentes kan hê, in gedagte te hou. Meer as een predikant het al die mening uitgespreek dat virtuele bediening deur middel van sosiale media steeds nie almal in die gemeente bereik nie. Beperkings soos beskikbaarheid van data, konnektiwiteit en tegniese vaardigheid is van krag. ’n Gedwonge leerkurwe om die tegnologie ten beste te gebruik, is deur baie deelnemers deurgegaan, en nie almal voel dat hulle dit reeds bemeester het nie. Telkens is daar nuwe nie-geweet-oomblikke wat ’n mens laat voel jy gaan nooit kan bybly nie.

Sou lidmate dus oorweeg om te verander van een platform na ’n ander, moet die impak op die bestaande platform en bedieningspatroon in gedagte gehou word. Die nuwe alternatief moet deeglik nagevors en eers deurdringend uitgetoets word. Die voor- en nadele van die een teenoor die ander moet rasioneel teenoor mekaar opgeweeg word. En daar moet ook rekening gehou word met die moontlikheid dat ’n ander maatskappy se produk in die toekoms soortgelyke veranderinge kan ondergaan.

Tans is die meeste kenners dit eens dat daar spesifiek vir Suid-Afrikaanse gebruikers nie rede is om van die hoofstroomplatforms afskeid te neem nie. Gemeentes kan gerus wees dat alle moontlike besware wat geopper is oor die veiligheid van private inligting besweer is en gerugte en vals inligting in die kiem gesmoor is. Die fokus moet eerder wees op die geslaagdheid van die gemeente se verkondiging – hoe om soveel mense moontlik op die mees effektiewe manier moontlik met die Woord van God te bereik, ten spyte van die fisiese beperkings van tyd, plek en afstand.

(Dr Deon du Toit is ’n beroepafwagtende predikant van die Kerk)