Karre begin reeds amper ’n uur voor die aanvang van ’n ma-en-dogteraand op 16 Mei 2025 by Gemeente Pretoria-Oos by die parkeerterrein arriveer. Daar is lank uitgesien na hierdie samewerkingsprojek tussen Gemeentes Pretoria-Oos, Swartkop, Centurion-Oos, Philadelphia en Wapadrant.

Die karre is propvol ma’s, dogters en selfs ’n ouma of twee wat die koue aangedurf het vir dié geleentheid. Die tema is Geloof en selfbeeld saam met Mej Chantel Struwig. Chantel Struwig is ’n bekende sosialemediapersoonlikheid en motiveringspreker. Sy het meer as 70 dames na dié geleentheid getrek waar sy oor geloof en selfbeeld gesels het. Haar wynrooi geboortevlek oor ’n deel van haar gesig en nek het sy as deel van haar lewe aanvaar en dit het haar beslis nie teruggehou in die lewe nie.

Chantel is maar net 24 en kan spog met oor die 80 000 aanhangers op sosiale media. Dit beteken 80 000 pare ore wat aandagtig luister soos sy die belangstelling in die Woord van die Here onder ’n jonger generasie stimuleer. Sy het onlangs haar BCom-graad in modeontwerp ontvang, besit haar eie besigheid, en is tans ’n atleet, sosialemediapersoonlikheid en motiveringspreker. Haar unieke verhaal en vermoë om selfbeeld onder jonger dames (meisies) te koester, het al in koerante soos Rapport en Beeld verskyn. Dit het haar ook die geleentheid gegun om saam met Minki van der Westhuisen op haar TV-program te kuier en om deel te wees van onderhoude op radiostasies soos GROOTfm en Jacaranda FM. Chantel is boonop ook ’n ambassadeur vir handelsmerke soos Dove en Refinery. Dit is ’n vol kerfstok op sό ’n jong ouderdom. Sy droom steeds om nog talle dames te ondersteun en te lei om hul vertroue in hulself en hul geloof op te bou. Dit is vir Chantel ’n besonderse voorreg dat die Here haar op ’n avontuur lei waar sy die geleentheid het om met dames in verskillende kontekste te kan gesels.

Dit was opvallend hoeveel dames hul hande opgesteek het ná die treffende inleidende vraag: Hoeveel van julle voel julle sukkel met selfbeeld? ’n Skerp vraag wat jou laat nadink oor hoe ons elkeen oor onsself en met onsself praat. Sy het die dames herinner dat God hulle geskep het en dat hulle in daardie vertroue moet lewe. Hulle moet dit probeer vermy om die mense rondom hulle na te boots en eerder as ’n lig te skyn as die persoon wat God beplan het hulle moet wees. Die wêreld het jou nodig nes jy is! Chantel het elke dame uitgedaag om te dink oor wie hul was voor die wêreld hulle oorreed het dat hulle nie goed genoeg is nie en om terug te keer na daardie persoon. Dit was ’n groot voorreg vir almal wat betrokke was om Chantel binne die huidige konteks oor geloof en selfbeeld te hoor gesels. Dit was veral treffend omdat soveel hoërskoolmeisies hulself tans daar bevind.

Dit was ’n unieke geleentheid vir gemeentelede vanuit verskillende gemeentes om mekaar te ontmoet en bande te bou. Terselfdertyd was dit ’n geleentheid vir ander dames wat nie deel van die NHKA is nie om die aand saam te kom geniet. Daar het selfs dames vanaf Kemptonpark gereis. Al die dames het ná Chantel se aanbieding heerlik saamgekuier en mekaar oor ’n warm koppie koffie leer ken. Dié verwelkomende en warm atmosfeer onder die dames is juis deur Chantel uitgewys en waardeer soos wat sy die dames aanskou het terwyl hulle verversings geniet het.

Die invloed wat Chantel op ’n jonger generasie het, is opsigtelik. Ná afloop van haar aanbieding was sy konstant in gesprekke met jonger aanhangers waar sy ondersteuning en raad gebied het en selfs talle foto’s saam die dames geneem het. Dit was unieke bande wat sy met medegelowiges kon vorm en waar sy kon deel vorm van hul verhaal en avontuur van geloof en selfbeeld.