Geliefdes van ons Here Jesus, ek wil graag met julle praat oor die volgende tema: Kan ons ‘n vrou se waarde werklik meet? En om hierdie tema te onderstreep, wil ek ook ’n vers uit die Psalmboek aanhaal, waar die psalmdigter vir die Here die volgende sê: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind” (Ps 131:2).
Broers en susters, vandag word daar orals in ons land Moedersdag gevier, en volgens my is dit niks ander nie as ’n geldmaakfoefie. Ek weet baie van julle sal my sekerlik wil kruisig hieroor, maar waaroor gaan Moedersdag? Dink julle werklik dat vrouens ’n spesiale dag moet hê waarop ons vir hulle kan dankie sê vir die feit dat hulle ma’s is? Immers, waarom moet ons vir hulle spesiaal dankie sê vir iets wat hulle self gekies het om te wees? Ja, niemand het hulle gedwing om ’n ma te wees nie … dit was hulle eie vrye keuse gewees! En buitendien, moederskap is deel van die mens se straf oor die aanvanklike sonde wat die vrou gedoen: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: Met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers” (vgl Gen 3:16). Daarom vra ek julle nou: Moet ons, as mans, nou werklik op een spesiale dag vir die vrouens in ons lewens bederf en pamperlang met geskenkies en liefde?
Wat se ding is ’n moeder? Wel, volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal word ’n moeder soos volg beskryf: “’n Moeder is ’n vrou wat kinders het”. Met ander woorde, as jy nie kinders het nie, is jy nie ’n moeder nie! Wat is jy dan? Net ’n vrou?! En as ons dan sê dat Moedersdag gaan oor al die moeders wat so bietjie bederf en gepamperlang moet word om sodoende erkenning aan hulle te gee, beteken dit dan nou ook dat diegene wat nie moeders is nie, nie hieraan mag deel hê nie? Dit is mos diskriminasie! Hoe kan een vrou, wat kinders het, bederf word, en ’n ander een, wat as gevolg van mediese redes ongelukkig nie kinders kan hê nie, maar tog ’n toegewyde en liefdevolle vrou is, afgeskeep word? Dit is mos heeltemal verkeerd! Inteendeel, dit is presies waarteen God ons waarsku as Hy die volgende sê: “[Ek]… kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike” (1 Sam 16:7).
Gemeente, ek wil julle weer ’n vraag vra, en julle moet eerlik hierop antwoord: Dink julle regtig dat ons ma’s of vrouens na waarde geskat kan word … is sy net ’n ou pêrelhalsnoertjie werd, of ’n ete by een of ander duur restuarant, of ’n afnaweek by haar gunsteling vakansie-oord? Is dít hoe jy jou vrou of ma in waarde skat … een maal ’n jaar?!
Ek is seker as die meeste van ons vandag so bietjie moet gaan nadink oor die ma’s of vrouens in ons lewe, en of ons hulle werklik waardeer vir wie hulle is, dan sal ons skrik. Ja, as julle gaan nadink oor waarvoor word ma’s en vrouens werklik waardeer, en waarvoor word hulle alles gebruik en misbruik, dan sal baie van ons eintlik ons koppe in skaamte moet laat sak! En so terloops, die HAT het nie die vaagste benul van wat ’n moeder is nie! Ek kry so amper die idee dat die opstellers almal mansmense was, en dat hulle dalk almal óf weeskinders was, óf dat hulle nie ’n Bybel besit nie en dus nie van beter geweet het nie. Die groot koppe en geleerdes wat daardie woordeboek saamgestel het, sal nie genoeg plek hê om ’n moeder se eienskappe te beskryf nie. Ja, ’n ma of ’n vrou se waarde kan nie gemeet word aan mooi geskenke of pragtige woorde nie! Altans nie volgens ons gelese gedeelte uit die Spreukeboek nie: “’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene” (v 10).
Geliefdes van ons Here, Jesus Christus, hoe moet ’n vrou of moeder se waarde dan gemeet word? Vandag het ons, net soos destyds, ook verskillende menings oor die waarde van die vrouens in ons lewens. Ja, vandag hoor ons heel dikwels dat daar gesê word dat agter elke suksesvolle man daar ’n goeie vrou staan. Ook die bybelskrwers, by monde van Lemuel, het hierdie waarheid erken: “Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk … Haar man is welbekend by die stadspoort waar hy saam met die stadsleiers beraadslag” (v 11 en 23). Tog, ons hoor baie kere ook hoe word daar gespot met vrouens, veral met skoonma’s en dom blondines. En baie keer is daar ’n stukkie waarheid in hierdie grappe weggesteek. Dit is nogal heel ironies, maar die Bybel het ook sy soort van grappige waarhede betreffende die skoner geslag.
Ons lees op verskeie plekke in die Bybel, veral in die Spreukeboek, van hoe die geleerdes van destyds oor die vrou gedink en geredeneer het. In hoofstuk 11 vers 22 kry ons só ’n bedekte grappie met waarheid in: “Die skoonheid van ’n vrou sonder oordeel is soos ’n goue ring aan ’n vark se snoet”; in hoofstuk 12 vers 4 word uitdruklik gewaarsku dat ’n vrou wat haar man tot groot verleenthede bring soos ’n vretende kanker is; en in hoofstuk 21 vers 9 word daar gesê dat ’n moeilike vrou die lewe vir ’n man hel kan maak: “Liewer bo-op ’n dak woon as saam met ’n twisgierige vrou onder een dak”.
Maar die Bybel het darem ook iets goeds te sê oor die vroulike geslag. Ja, ons lees dat daar gesê word as ’n man ‘n vrou gevind het, dan het hy ware geluk gevind en geniet hy die goedheid van God (vgl Spr 18:22); en dan is daar natuurlik ons gelese gedeelte uit Spreuke 31 verse 10 tot 31 waar Lamuel sy eie moeder besing en prys.
Maar weet julle wat is die mooiste van die vroulike waarde in die Bybel? Wel, dit is die feit dat baie eienskappe van God aan die vroulike kant toegedig word. Ja, dit is eienskappe wat ’n man ongelukkig – of sal ons eerder sê, gelukkig – nie besit nie! En as God dan deur die Bybelskrywers met vroulike eienskappe besing word, is dit ’n kenteken dat daar wel hoë waarde aan die vrou of moeder gegee word. Immers, God sélf gebruik op baie plekke hierdie soort van spreektaal om sy liefde en sorg vir die mens uit te beeld. Kom ons kyk na so paar voorbeelde: In Jesaja 47 vers 14 sê God: “Ek het lank stilgebly, Ek het geswyg, My bedwing. Nou skree Ek soos ’n vrou wat ’n kind in die wêreld bring. Ek hyg. Ek snak na asem”. Op dieselfde trant sê Jakobus dat God soos ’n vrou geboorte gegee het aan sy volk (Jak 1:18). Meer nog: In Jesaja 49 vers 15 beaam God self sy liefde vir sy kinders deur van ’n moederlike beeld gebruik te maak: “Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nooit vergeet nie”. En dan is daar natuurlik ons teksvers uit Psalm 131 vers 2 wat sê dat ons by God tevredenheid gevind het soos wat ’n kindjie by sy moeder kry.
Hierdie eienskappe van God kan ’n mens net by ’n vrou kry. Dit is die moederlike kant van God omdat Hy nie net ’n “manlike” God is nie! God is God … ongeag van geslag! In sy verhouding met ons gaan dit nie oor sy manlike of vroulike eienskappe nie, maar dit gaan om sy wese soos wat Hy Homself aan ons openbaar. God openbaar Homself op ’n vaderlike en moederlike wyse aan ons. As Vader ontferm Hy Hom oor ons; ons vind beskerming in sy Vaderarms en sekuriteit in sy vaderhuis. En soos ’n moeder vergeet God ons nooit nie; Hy troos ons net so ’n ma kan; Hy leer ons loop op die regte paaie (vgl Hos 11:3: “Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra …”) en ja, waar kan ’n gebroke en hartseer ou kinderhartjie die beste getroos word? Nêrens anders nie as teen die moederbors! En waar kan jy, as Christen, veiliger voel en meer tevredenheid kry as teen God se bors? Nêrens anders nie!
Broers en susters, dit maak nie saak wat ons almal te sê het oor vrouens en moeders nie, maar ’n feit wat soos ’n paal bo water uitstaan, is dat ’n man nie sonder ’n vrou kan klaarkom nie! Ja, mans, stry maar soos julle wil! Hierdie waarheid kom al van die skepping van die mens af. Julle ken seker die staaltjie wat vertel word oor die eerste keer toe Adam vir Eva gesien het. Wel, toe sy die eerste keer voor hom gestaan het, kon Adam nie sy oë van hierdie pragtige vrou afhou nie! Sjoe, en was sy nie vir hom mooi nie?! Adam vra toe vir God waarom Hy haar so mooi gemaak het, waarop God hom antwoord: “Sodat jý haar kan liefkry, Adam.” Toe Adam op ’n dag weer vir God konfronteer met die vraag oor hoekom Eva dan so dom is, het God hom teruggeantwoord: “Sodat sy jóú kan liefkry, Adam!” Ja, God het gesien dat Adam alleen is en dat hy ’n behoefte het aan iemand soos hy, ’n maat. Daarom is dít ook uiteindelik die punt waarby ons moet uitkom as ons oor die ware waarde en plek van ’n vrou of moeder wil praat: Waar pas moeders en vrouens in God se plan in?
As julle werklik so bietjie oor hierdie vraag gaan nadink, sal julle baie gou besef dat God ’n vrou en moeder met groot sorg gemaak het. Hulle is beslis nie minderwaardige spesies teenoor mans nie. Nee, hulle is geskenke wat God sélf vir ons mans gegee het sodat ons nie alleen hoef te wees nie. Ons voorgeslagte het hulle nodig gehad … ons het hulle steeds nodig … hulle is beslis ’n aanwins in enige man se lewe, hetsy as moeder of as vrou. Ja, lees maar Lemuel se verklaring oor sy eie moeder. Vir hom was sy die knapste van alle vroue, omdat sy sy ma was (v 29). Let wel, sy ma was beslis nie een of ander superwoman nie, maar as hy al haar hoedanighede as vrou en moeder beskryf en besing, dan kom hy uiteindelik uit by die ware getuigskrif in vers 30 as hy as’t ware erken: “Al hierdie wonderlike eienskappe van my ma is goed en wel, maar dit is nie die belangrikste nie. Nee, die belangrikste is of sy die Here gedien het!”
Ja, dít is wat tel! Gaan lees maar julle Bybels, en kyk ook om julle rond! Die vrouens was die eerste getuies van die Here Jesus se leë graf; hulle word die eerste verkondigers daarvan dat die Here Jesus werklik opgestaan het uit die dood. Selfs Petrus erken dat ’n ongelowige man deur die goeie gedrag en liefde van sy gelowige vrou vir God gewen sal kan word (vgl 1 Pet 3:1-2). En as ons na vandag kyk, wie is deesdae die ware verkondigers van God se boodskap? Wie doen deesdae die meeste gemeentelike werk? Wie sit die kerk se banke op Sondae vol? Wie dien deesdae die meeste op kerkrade? Op al hierdie vrae is daar net een antwoord: Nie die mans nie, maar vrouens … moeders met klein kindertjies. Ja, in die meeste huisgesinne is die geestelike leier deesdae nie meer die man nie, maar die vrou. Hoekom? Wel, omdat hulle die die gewilligste instrumente in God se hande is. Ja, wie leer ons kinders daardie eerste gebedjie en wie vertel hulle eerste van “liewe Jesus”? Wie help ons kinders met hulle eerste woorde en treë? Wie vee die trane af as daar baie hartseer is? Wie staan altyd gereed met kos en ander huishoudlike dinge, selfs al is hulle ook hoe moeg? Ja, wie doen al hierdie dinge, maar word die minste waardeer? Vra jouself af: Wat is my ma of my vrou vir my werd?
Gemeente, ons onderskat die waarde van ’n vrou en van ’n moeder. Hierdie euwel begin al van kleintyd af. Moeders word nie meer deur hulle kinders gerespekteer nie, hulle word nie die nodige liefde, respek en dankbaarheid bewys nie! En uiteindelik vorm dit ’n bose kringloop, want die kinders word grootmense en die grootmense tree weer so op teenoor hulle vrouens en ma’s. Vrouens kry beslis nie daardie erkenning wat hulle toekom nie.
Julle kan maar gerus luister hoe die seuns en jong manne oor die meisies praat. Alles word bespreek … van kop tot tone. Almal wil by almal uitvind wat weet hulle van hierdie of daardie meisie. Hoor jy egter op einige stadium of een van hulle dalk vra: “Ek wonder of sy die Here ken?” Ja, as kinders oor hulle ouers praat, dan sal jy net klagtes hoor oor hoe dit en dat nou weer gesê is van die kleredrag en wat ookal. Jy hoor van hoe kan die een se ma dit doen en daardie een se ma kan weer dat doen! Glo my, jy sal skeef aangekyk word as jy dit sou durf waag om te sê: “My ma is nou nie so wat wonders in dit of dat nie, maar weet julle wat? Sy het my geleer van die Here!” Luister maar gerus ook oor hoe mans kan kla oor hulle vrouens wat sulke regte spoilsports is, en die skoonma’s wat regte hekse op besems is. Ja, hulle mag nou nie saam met die manne gaan kuier en so bietjie ontsapn nie, maar wie dink julle sit gereeld en kyk na die kinders terwyl die manne so lekker die lewe geniet? Wie moet sorg dat daar ’n warm bord kos is as hulle vanaand uiteindelik huis toe kom? En dan wil julle vir julle vrouens en ma’s net eenkeer ’n jaar dankie sê? Ek sal my skaam as ek my vrou of ma net eenkeer ’n jaar moet wys hoe kosbaar sy vir my is! As jy net op Moedersdag kan onthou om vir jou ma of vrou dankie te sê vir wie sy is en vir wat sy alles vir jou doen, dan het jy nog nie haar werklike waarde besef nie!
Broers en susters, wat is die werklike waarde van ’n vrou of moeder? Wel, ons kan maar net saam met die skrywer van die Spreukeboek die volgende bely: “Wie ’n vrou kry, vind geluk en geniet die goedheid van die Here”. Ja, saam met Lemuel wil ons ook vir al die moeders en vrouens sê: “’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene … Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word” (v 10, 30).
Daarom, om terug te kom na my aanvanklike vraag of dit werklik nodig is om ons vrouens of moeders op een spesiale dag te bederf en te pamperlang, my antwoord is “Nee”! As jy dit net op een dag in die jaar doen, dan besef jy nie die werklike waarde van haar nie. Sy mag nie net een dag spesiaal wees nie … nee, sy is elke dag spesiaal!
Vir al die moeders en ma’s wil ek namens die mans dankie sê dat julle daar vir ons, as kinders en as mans, is. Ja, dankie dat julle so ’n goeie voorbeeld vir ons stel van onbaatsugte liefde. Hou so aan, want soos Petrus gesê het, julle sal ons ook uiteindelik vir die Here Jesus kan wen deur julle goeie voorbeeld. Ons besef dat ons julle nooit na waarde sal kan skat nie, maar ons hoop en bid dat die Here ons sal leer om julle liefde en julle trou waardig te wees.
Amen