Ek wou weet wie die onbekende man is wat in ’n outydse ronde portretraam (SPEMG no 274) na ons afkyk in die Kerkmuseum. Met ’n lang leer kon my dogter, Taneli, dit bereik en agterop sy naam lees. Nogal ’n belangrike ou skoolmeester, mnr Hendrik Stiemens! Dis gepas dat ons nou aan hom dink – 130 jaar na sy afsterwe op 25 November 1894.

Die jakarandas se blomtyd is amper verby. Dis eksamentyd. Oral het waardige onderwysers hul beste gegee vir hul skole en hul leerders. Maar stel jou nou voor dat Meneer se huisdeur in die middel van die nag oopgebreek word en hy in sy nagkabaai in hegtenis geneem word. Om eers op die plein en toe uiteindelik in sy eie skooltjie saam met sewe ander rebelle in die houtbalk en ysterstaafblok geslaan te word – op sy rug op die misvloer met enkels deur gate in die blok. Dit was Hendrik Stiemens se lot. Wat was die aanklag teen hom? In die ZAR-burgeroorlog van 1862-1864 kies hy kant vir die volksleër van Stephanus Schoeman teenoor die Dopperleër van Paul Kruger.

In die 1860’s het Stiemens glad nie met Kruger se enge godsdienstige opvattinge saamgestem nie, maar na 1882 werk hy met hart en siel saam met oom Paul. Hy word een van Kruger se Hollanders genoem, maar hy was reeds een van MW Pretorius en TF Burgers se Nederlandse immigrante wat ’n beduidende bydrae tot die staatkundige en kulturele ontwikkeling van die ZAR gelewer het.

Stiemens en sy vrou het in 1857 in Natal gearriveer vanaf Nederland en hy het met huisonderwys op verskeie plase begin. Tot sy skok moes hy sommer die eerste Sondag al ’n leespreek gee en al wat hy gehad het, was ’n liberale preek van ds Meyboom. Hy het reeds agtergekom dat die Boere baie streng ortodoks was, maar gelukkig vir hom het hulle hom gelukkig niet begrepen. Dit was vir hom telkens ’n onaangename verpligting om kerk en begrafnisse te hou.

Dit was danksy die ywer van die Boerevriend, prof Lauts, en op uitnodiging van president Pretorius en staatsprokureur Proes dat hy as opgeleide onderwyser na Suid-Afrika, en spesifiek Transvaal en Pretoria volgens sy keuse, kon gaan. Op dieselfde wyse volg ds Adriaan Begemann kort daarna. Op 11 September 1859 onderteken Stiemens sy kontrak by president MW Pretorius in die Pretoriushuis te Potchefstroom wat tans ’n museum is.

Aanvanklik woon die Stiemense by Joachim Prinsloo op sy plasie, Prinshof, net noordoos van Pretoria. Op 1 November 1859 open die eerste regeringskool in die oude (hartbees) huisje van Zacharias Pretorius in die omgewing van die dieretuin met die eerste regeringsondersteunde onderwyser en 26 leerlinge. Binne drie maande skuif die skool met 60 leerlinge na die Schoolerf wat voorheen aan president MW Pretorius behoort het. Hierdie Schoolerf was op die noordwestelike hoek van Kerkplein waar die Paleis van Justisie in 1896 sou verrys. Hierdie geboutjie het ook as Volksraadsaal en in 1884 as kerkgebou diens gedoen terwyl die groot kerk op die plein in aanbou was.

Van Ou Meester is verwag om sonder Google horlosies reg te maak, ou Bybels te herbind en selfs persoonlike briewe namens ander te skryf. Teen £1 stuk het hy testamente opgestel. Hy moes hul eie skoene herstel en ook nuwes maak. Sy fyn Nederlandse stadsvrou moes nou sonder winkels hul eie seep, kerse en asyn maak, slag en brood bak. Tante Bella Lotter van ’n Natalse plaas waar Hendrik onderrig gegee het, het mev Stiemens hierin touwys gemaak. Stiemens het glo gesê dat hulle die Engelse gesegde help yourself begin toepas het. Ta’ Bella Lotter en haar Erasmus-familie naby Greytown was trots om, soos hulle gesê het, afstammelinge van die groot Hervormers Lotter en Erasmus te wees. ’n Hollandse lekkerny hazepeper (’n bredie van repies haasvleis gestowe in wyn) wanneer Stiemens se honde ou langoor gevang het, was vir die Boere baie vreemd.

Meester Stiemens het amper veroorsaak dat sy groeiende skool ’n vinnige dood sterf toe hy die nuwe vak Aardrykskunde begin aanbied het. Hy het die leerders geleer dat die aarde rond is en draai. Weens sy anti-Christelike leer daal die aantal leerders binne ’n maand van 80 na 12. Tot Stiemens se misnoeë het die skool ook kort-kort leeggeloop ná die leerders se Boerematriek met belydenis van geloof. Volgens die ouers se oordeel was die kinders dan klaar geleer.

In die volgende uitgawe lees ons verder van Hendrik Stiemens se loopbaan in die ZAR. Vir eers is dit belangrik om kennis te neem van die twee verbintenisse met November: die opening van die eerste regeringskool op 1 November 1859, en sy afsterwe op 25 November 1894.

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap