In die vorige uitgawe het ons die onbekende man in die ronde raam in die Museum leer ken as die skoolmeester Hendrik Stiemens. In Deel 1 het ons onder andere gelees van sy ervaringe om die eerste skool op Kerkplein te vestig. In Deel 2 styg Hendrik Stiemens uit van onderwyser tot waarnemende Superintendent van Onderwys van die destydse ZAR.
Hendrik Stiemens is op 20 Maart 1822 te Arnhem, Gelderland, in Nederland gebore. Sy ouers was Hendrik en Cornelia (née Vermeer). Hy trou in 1842 met Hendrika Johanna van der Dussen (1817-1852), die dogter van ’n skoolhoof. Ses kinders is uit die huwelik gebore. Die oudste kind, Hendrik jr, bewaar die briewe van sy pa en in sy dagboek leer ons baie van sy pa, asook uit laasgenoemde se lesings tydens hul kort verblyf in Nederland (1880-1882) oor die Oude tijden in Natal en Transvaal.
Na sy eerste vrou se afsterwe, trou hy in 1855 met Adriana Zechner (1825-1917). Sy eerste ses kinders bly in Nederland agter onder die Van der Dussen-grootouers se sorg. Hendrik en Adriana het ook ses kinders waarvan net die oudste in Nederland gebore is, die tweede in Natal en die res in Pretoria. Hul kinders het in Johannesburg, Potchefstroom en Pretoria gewoon en was almal gesiene Transvalers. Weens pokke was sy gesig vol letsels en hy is dikwels daaroor geterg, dus dra hy ’n ruie baard. Hy was ’n gekneveld groot man en kon krieket speel en het in Suid-Afrika leer perdry en jag.
Die Stiemens-gesin was lidmate van die Nederlandse Hervormde Kerk en vind hier in Pretoria ’n tuiste by die Nederduitsch Hervormde Kerk. In die 1860’s met die begin van die Transvaalse NG Kerk waarsku Stiemens teen “den vuilen (weliswaar bekeerde) jood Lion Cachet, gij moet van hem geen notitie nemen, het meeste wat hij in de nieuwsbladen brabbelt zijn leugens.” Hy meld tydens die mislukte kerkvereniging van die Transvaalse NGK en NHK dat hul gesin “houden ons geheel en al onzijdig en zijn van gevoelen, dat zoodanige twisten niet tot de leer van Jezus behooren, en beide partijen geen gelijk kunnen hebben.”
Die gesin woon in verskeie ruim huise wes van Kerkplein – destyds die gegoede buurt – met telkens ’n groot fraayen tuin waar hy kon knutselen (werk). Hulle hou ’n klein bobbejaantjie as troeteldier aan. Die gesin hou dikwels partytjies aangesien daar plek was vir tot 50 jonges om te kon dans.
In die aanloop tot die burgeroorlog van 1862 tot 1864 word Stiemens regeringsekretaris van (waarnemende) president Schoeman. Hy maak opwindende reise saam met Schoeman in Zoutpansbergdorp (Schoemansdal in Limpopo) mee – onder andere in terme van swart ivoor oftewel handel in swart mense. Swart kinders is by wit vooggesinne geplaas as inboekelinge. Hy ontvang tydens hierdie tydperk twee klein seuntjies, die tienjarige Silo Vela valsche tijger wat lewenslank by die gesin sou werk en ’n agtjarige seuntjie met ’n kaartjie aan ’n riem om sy nek gebind waarop geskryf staan present van die Portugese konsul. Hy sou egter die seun spoedig ook weer present weggegee. Hy neem die seuntjies mee om sy vrou te verras. Hy het ook Mpande, die Zoeloekoning, Moshesh, die Basothokoning, en verskeie Sanmense ontmoet.
Oor die taal wat die gesin later praat, skryf sy dogter Adriana aan hul broer Hendrik in Nederland: “Ik eerst zeggen dat je niet naar de vouten zien zal want wij praten regt Afrikaansch”.
Voor en na die burgeroorlog was Stiemens tot 1869 ’n onderwyser waarna hy verskeie administratiewe regeringsposte tot 1879 beklee. Selfs in die tydperk van Britse anneksasie beklee hy poste ten spyte van sy beperkte Engels. Die Driemanskap bied hom in 1882 die pos as sekretaris van die Superintendent van Onderwys aan en in 1888 na die aftrede van ds SJ du Toit, Totius se pa, neem hy waar as Superintendent tot die koms van dr N Mansvelt in 1891.
Hy sterf op 25 November 1894 terwyl hy en Adriana by sy seun Willem woonagtig was. Gedurende sy laaste dae is hy deur president Kruger besoek. Stiemens is in die ou Kerkstraatbegraafplaas begrawe.
Die raaisel van die man in die ronde portret in die museum is opgelos. Wat ’n mens!
(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

