Zorgsame Zenobia van Zeerust skryf: Beste Oupa Stoep, ek is my lewe lank ’n inwoner van Zeerust en hoor nou die dag dat daar blykbaar ’n kerkraadsbesluit is wat sê dat die aarde plat is hier by Zeerust en nie rond is, soos op ander plekke nie. Kan Oupa my dalk meer hiervan vertel?

Beste Zenobia, jou vraag verdien aandag, want daar is mos hoeka deesdae weer iets soos The Flat Earth Society wat wil beweer dat die aarde plat is, soos die mense voor die tyd van Copernicus en Galileo Galilei vas geglo het. Dit was hier in die 16de eeu toe hulle begin leer het dat die aarde rond is en om die son draai, nie andersom nie. Blykbaar het hierdie nuwe kennis nie oral ewe gou posgevat nie.

Wyle prof SP Engelbrecht, vermaarde kerkhistorikus, het in 1930 die volgende staaltjie vertel:

In die jare 1860-1864 het daar ’n onrustigheid, eintlik ’n soort beswaardheid, in Gemeente Zeerust van die Nederduitsch Hervormde Kerk posgevat. Daar het gerugte die rondte gedoen dat die leraar, ds Dirk van der Hoff, sowaar glo dat die wêreld rond is. Verskeie lidmate kon dit nie vat nie, want dit staan mos geskrywe dat die aarde gegrondves is op zyn pilare (Ps 75: 4).

Dit het ’n ongelukkigheid veroorsaak, en daar is kennis gegee dat dit op die volgende vergadering van die kerkraad uitgepluis sou word. Die vergadering is belê en ds Van der Hoff het met al die kennis en bewyse tot sy beskikking probeer verduidelik waarom dit aanvaar word dat die wêreld rond is. Die vergadering kon nie onbepaald voortduur nie en daar is voorstelle gevra. Die volgende besluit is toe in die notuleboek opgeteken: Die wêreld mocht wel rond zyn, maar by Zeerust en omgewing zyn hy plat.

Daar het jy dit, Zenobia. Daar by Zeerust is die wêreld steeds plat, want hierdie besluit is nooit herroep nie en staan vandag nog as ’n besluit van die Kerkraad van Gemeente Zeerust. As jy dus mooi gaan soek in jul omgewing, ontdek jy dalk nog die pilare waarop die aarde gegrondves is!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap