Me IP Konders van Kammanassie skryf: Beste Oupa Stoep, hier in die Kammanassie is dokters maar yl versprei en moet ons baiekeer onsself regdokter. My moeilikheid waarvoor ek Oupa se hulp nodig het, is dat ek nie meer weet watter kant toe nie. In die ou dae het mens alles reggedokter met die middels in die Lennon’s-medisynekassie of, as dit nie gewerk het nie, het jy gaan raad vra by Oom Ben Bossies, wat die medisinale waarde van elke plant onder die son geken het. Nou sweer almal by Dr Google. Oupa, help asseblief: Waar gaan ek verligting kry vir my galblaasprobleme, my ontsteekte spatare, my ooraktiewe skildklier, my senuweeagtige blaas, my ingroei-toonnaels en my spastiese kolon?
Ai, my liewe IP Konders, Oupa se hart bloei vir jou (nie regtig nie: moet asseblief nie van Oom Ben Bossie se hartbloeikruie aanstuur nie!). Dit moet erg wees om deur soveel kwale geteister te word. Oupa se beste raad aan jou is om ’n paar van jul mooiste vetstertskape te slag, die vleis te verkoop en die opbrengs te gebruik om by ’n ordentlike internis uit te kom, al is die naaste een drie dagreise ver. As jy al die nodige toetse gedoen het, en die regte diagnoses en behandelingspatrone gekry het, gaan jou lewe sommer ’n nuwe en gesonder koers inslaan. Onthou maar net om die sleepwaentjie te hak vir al die pille…
As dié plan nie werk nie, dan is jy maar as ’n slegte derde keuse aangewese op die Lennon’s-botteltjies en die bossiedokter. Dis immers wat ons voorvaders en hul ossewaens oor die Drakensberge die binneland in gekry het. Maar, asseblief tog, kry vir jou ’n vergrootglas en lees die fynskrif op die botteltjies baie deeglik sodat jy die middels kan gebruik soos hulle gebruik moet word en waarvoor hulle gebruik moet word. Jy wil nie weet wat gebeur as ’n mens dink Duiwelsdrek gaan jou hare mooi laat blink en dan jou hele kop daarmee besmeer voor jy na Tant Souf se Volkspele-aand gaan nie. Die mense praat nou nog van die dag toe Oupa dit gedoen het…
Maar asseblief, asse-GROOT-blief – bly weg van Dr Google! As jy al jou simptome opsoek, gaan jy ontdek dat jy drie miljoen, tweehonderduisend vyfhonderd een-en-twintig verskillende siektes het, en daar is ’n triljoen verskillende rate oor hoe jy jou siektes moet behandel. Die uiteinde gaan wees dat jy bo-op al jou siektes ook nog ’n senu-instorting gaan hê van al die massas inligting wat jy moet probeer verwerk.
Laat Oupa jou waarsku met ’n ware verhaal: ’n Vriend van Oupa bel baie benoud en sê dat hy gegoogle het en dat daar groot fout is met sy protestantse klier. Nadat Oupa eers verduidelik het dat prostate in Engels vertaal word met prostaat, nie protestant nie, vra Oupa na sy simptome. Oupa se vriend sê dat, toe hy vroegoggend by die toilet staan en water afslaan, hy sien dat dit die ene bloedrooi bloed is. Hy het hom yskoud geskrik, rekenaar toe gehardloop, en nou is hy seker hy het groot moeilikheid met die klier waarvoor mans baie bang is om moeilikheid mee te kry. Oupa het hom aangeraai om net vir ’n dag of twee te kalmeer. So iets kan maar net wees van ’n infeksie wat gou opklaar. Die vriend bel die volgende dag baie verlig terug. Oupa was reg, alles is weer terug na normaal. Vroeg die volgende oggend kry Oupa ’n baie benoude oproep: Dis weer net die ene bloed!
Dokter toe! maan Oupa. So gesê, so gedaan. Die dokter het al die nodige toetse gedoen, maar kon niks fout kry nie. Wat oes julle deesdae op die plaas? vra die dokter. My vriend beduie dat hulle nou beet oes en dis die lekkerste beet wat hulle nog in jare geoes het. En eet julle baie beet? vra die dokter. Ja, antwoord my vriend, ons het hoeka Sondagaand ’n groot skottel geëet en toe weer Dinsdagaand.
Daar’s jou antwoord! sê die dokter. Google weet dalk van prostate, maar Google weet nie dat Oupa se vriend met beet boer en gereeld gehaltebeheer toepas nie.
Wees dus gewaarsku, liewe IP Konders, moenie alles wat Dr Google jou beduie, vir rooifluweelkoek opvreet nie!
