Angstige Adelheid van Amersfoort vra: Beste Oupa Stoep, hier is ’n ou omie wat met ’n Volkswagen Kombi rondry en heeltyd oor ’n luidspreker skreeu: “Die einde is naby! Die einde is naby!” As dit so is, wat dink Oupa moet ek doen?
Beste Adelheid, die eerste ding wat jy moet doen, is om vas te stel of die omie praat van die einde van die tye of van die einde van sy Kombi se verkoelingstelsel. As hy bevestig dat hy praat van die einde van die tye, het Oupa afgekom op ’n stukkie navorsing wat jou dalk mag help. ’n Uitgewersmaatskappy in Amerika het vir mense gevra wat hulle sou doen as daar vasgestel word dat ’n asteroïed oor ’n uur teen die aarde sou bots en alle vorms van elwe sou uitwis. Wat sal jy met jou laaste 60 minute doen, het hulle gevra.
Soos ’n mens kan verwag, het 54% van respondente gesê dat hulle daardie tyd sou wou deurbring saam met hul geliefdes, óf in persoon óf met ’n telefoonoproep; 13% het gesê dat hulle die onvermydelike sou aanvaar, terugsit, en ’n glas sjampanje sou drink; 9% het gesê dat hulle daardie tyd graag saam met iemand in die bed sou wou deurbring. Net 3% het gesê dat hulle ernstig sou begin bid.
2% het gesê dat hulle hul gunsteling- en mees vetmakende maaltyd sou eet; en ’n volle 2% het gesê dat hulle dink dat dit die aangewese tyd sou wees om winkels te begin plunder!
Oupa dink as die nuus van ’n asteroïed wat binne ’n uur Suid-Afrika sou tref rugbaar sou word, sou die turkooisbaadjiemannetjies op hul motorfietse oorval word met bestellings om binne ’n uur soveel moontlik geelvet biltong en lawaaiwater af te lewer…
Alhoewel dit nie bevestig kan word nie, word dit van die Kerkhervormer Martin Luther vertel dat hy sou gesê het: As ek sou weet dat môre die einde van die wêreld gaan wees, sal ek vandag ’n appelboom plant.
So, my liewe Adelheid, Oupa het nou vir jou ’n klomp opsies gegee oor wat jy kan doen sou jy uitvind dat die einde van die tye naby is. Persoonlik dink Oupa dat Luther se raad die beste is. Plant ’n appelboom – doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is!