Parate Petrus van Phalaborwa skryf: Beste Oupa Stoep, dink Oupa dat ons sagte teikens is as ons ’n erediens bywoon in die kerkgebou? En dink Oupa dat ’n mens maar jou pistool of rewolwer moet saambring vir jou eie beskerming en om die ander erediensgangers te beskerm sou dit nodig word?

Liewe Petrus, jy vra vir Oupa ’n baie moeilike vraag waarop daar nie maklike of eenduidige antwoorde is nie. Oupa kan verstaan waar jou bekommernis vandaan kom. Ons het almal gelees van die gebeure by ’n erediens in Pretoria toe rowers die plek binnegestorm het en een van die erediensgangers sy wapen moes gebruik toe dinge lelik begin raak. Oupa het dié gebeure nogal met aandag gevolg en hy wonder in hoe ’n mate hierdie ’n kerk was wat geteiken is en of dit net ’n gewone rooftog was. Die erediens het plaasgevind in ’n industriële kompleks en was teen 11:30 nog aan die gang, wanneer baie eredienste al verby is. Dit verander niks aan die trauma van die gebeure nie.

Oupa besef dat ons leef in tye wat meer en meer gevaarlik word en dat al hoe meer slegte dinge gebeur. ’n Mens doen wat jy kan om dinge by ’n erediens veilig te hou met wagte wat die karre oppas, en deur deure en hekke te sluit waar dit prakties moontlik is. Oupa is gelukkig om ’n paar lede van die Polisiediens in sy gemeente te hê en hy weet dat hulle altyd, baie onopsigtelik, hul wapens by hulle dra. Dit gee ’n klein bietjie gemoedsrus, maar dit bly ’n netelige saak. Oupa sal baie moeilik almal in die gemeente wat wapens het, aanraai om dit saam te bring na die erediens toe. Dit bring ’n ander dinamika in spel en kan aanleiding gee tot ander probleme, soos wapens wat op ’n manier rondlê en in verkeerde hande kan beland, en onskuldige mense wat beseer kan word. Wat Oupa probeer sê, is dat hy ongelukkig nie die wysheid het om vir jou ’n finale en allesomvattende antwoord te gee nie.

Maar Oupa wil jou tog vertel van hoe ingewikkeld sekuriteit by die kerk kan wees: Een Vrydag was Oupa by die kerkgebou vir ’n byeenkoms van ons senior burgers. Oupa moes ook fotostate maak vir die kamp van die finalejaar katkisante wat daardie naweek sou plaasvind. So is Oupa besig om fotostate te maak in die kantoor van die kleuterskool wat op die kerkwerf geleë is toe die tuinier kom sê dat iemand lol by die motors wat in die parkeerterrein staan. Oupa gaan loer oor die muur en sien jou werklikwaar iemand besig om met die stuurwielslot van Tannie Baba se Toyota Cressida te peuter. En daar skop die adrenalien in en vredeliewende Oupa verander in Rambo se kleinneef Riempies…

Oupa storm na die parkeerterrein, al brullende (’n man brul mos, hy gil nie!). Oupa besef dat hy nou ’n gevaarlike situasie ingaan en is baie bly toe hy dink aan sy knipmes wat hy altyd by hom het. Oupa pluk die mes uit sy sak en storm op die kardief af. Hy sien Oupa kom en kry die kar aan die gang. Hy moet eers agteruit ry voordat hy uit die terrein kan kom. Toe hy stop voordat hy weer vorentoe kan wegtrek, is Oupa op hom. Oupa kap-kap met sy mes deur die oop venster in sy rigting. Toe hy terugdeins, steek Oupa sy hand in en skakel die kar af, maar Oupa kry nie die sleutels uit nie, want ’n verdekselse Toyota het mos ’n knoppie wat jy moet indruk voordat jy die sleutels kan uitkry. Die skelm skakel die kar weer aan, Oupa kap-kap en sit die kar weer af. Ons herhaal hierdie speletjie ’n paar keer. Toe, uit die hoek van sy oog, sien Oupa die ou se trawant naderkom. Hy steek sy hand voor by sy hemp in en haal iets blinks uit. Oupa vermoed dis ’n vuurwapen en voer eerder ’n strategiese retireer-aksie uit. Die trawant spring in die Cressida en hulle jaag weg.

Oupa staan daar, erg bedroë, met sy mes steeds in sy hand. Toe eers kom die senior burgers en masse vir Oupa te hulp. Oupa kan Tannie Baba nie in die oë kyk nie, want Oupa kon nie keer dat haar geliefde kar gesteel word nie. Toe Oupa beduie hoe jammer hy is, sê sy: Maar Dominee, hier staan my kar dan nog! So sou ons agterkom dat die diewe met hul eie Cressida ingery het en probeer het om ’n identiese een te steel.

Rambo se kleinneef Riempies was toe al die tyd besig om die diewe se kar by húlle te steel. Sien, sekuriteit by die kerk kan maar ’n ingewikkelde ding wees!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap