Beteuterde Benjamin van Bultfontein vra: Beste Oom Oupa Stoep, ek het ’n groot probleem met my huiswerk wat ek by die skool kry. Tydens die inperking het my ouma vir my tuisonderrig gegee en sy was nie baie streng met die huiswerk wat ek moes doen nie. Ek is egter nou terug by die gewone skool en nou sukkel ek om my huiswerk te onthou en gedoen te kry. Het Oom Oupa dalk vir my raad?
Beste Benjamin, jy het Oupa se volle simpatie. Oupa het self maar gesukkel op skool met die tonne huiswerk wat die onderwysers hom gegee het. Wat Oupa wel gevind het, was dit help om dadelik as jy by die huis kom, vir jou ’n rooster op te stel vir die huiswerk wat jy daardie middag moet doen.
Moet asseblief net nie in die slaggat trap waarin Oupa telkens getrap het nie: Oupa het ’n driekwartier gevat om die middag se rooster op te stel, maar as hy klaar is daarmee, is hy ’n driekwartier agter. Dit vat hom dan ’n verdere 25 minute om die rooster te wysig, maar dan is hy weer 25 minute agter en dan moet hy weer begin wysig. So het Oupa tot slapenstyd besig gebly met al die wysigings wat hy moes aanbring, en dan het sy huiswerk in die slag gebly…
Oupa het toe geleer dat ’n mens altyd reg moet wees met ’n verskoning en hy help jou graag met ’n paar wat vir hom gewerk het:
- Ons het beurtkrag gehad en ek moes my huiswerk aan die brand steek om lig te maak.
- My pa het ’n senuwee-ineenstorting gehad en toe ’n skêr gevat en konfetti van my huiswerk gemaak.
- My hamster het kleintjies gehad en toe my huiswerk gebruik om ’n nessie te maak.
- Ek het ’n papiervliegtuigie van my huiswerk gemaak, en toe word hy gekaap.
Soms het die gesprekke so gegaan: Onderwyser: Het jy jou huiswerk gedoen? Ek: Nee, Juffrou. Onderwyser: Wat is jou verskoning? Ek: Dis my ma se skuld. Onderwyser: Hoe so – het jou ma jou dan gekeer om jou huiswerk te doen? Ek: Nee, Juffrou, sy het nie genoeg in my ore gekerm nie.
Onderwyser: Waar is jou huiswerk? Ek: Die wind het dit weggewaai op pad skool toe. Onderwyser: En hoekom is jy so laat? Ek: Want ek moes lank wag vir die wind om sterk genoeg te waai…
Ek: Juffrou, jy sal my mos nie straf vir iets wat ek nie gedoen het nie, nè? Onderwyser: Natuurlik nie! Ek: Juffrou, ek het nie my huiswerk gedoen nie.
Ek: Meneer, is daar lewe na die dood? Onderwyser: Hoekom vra jy? Ek: Want ek gaan ekstra tyd nodig hê om al die huiswerk te doen wat jy my gegee het…
Die maklikste uitweg egter, my liewe Benjamin, is om te gaan sit op jou bas en jou huiswerk te doen. Probeer om oorle Langenhoven se raad te volg: Jy moet die swaarkry met lekkerkry klaarkry!