Puntenerige Pastor van Pelgrimsrus vra: Beste Oupa Stoep, ek het kom aftree hier in die Laeveld en gedink dat ek ’n rustige bestaan op ons ou erfplasie sou kon voer. Die woord het egter gou uitgelek dat ek steeds ’n huweliksbevestiger is, en nou word ek dikwels gevra om huwelike te bevestig in ons skilderagtige dorpie. Ek gee glad nie om nie, maar wat my begin vang, is dat bruide, sonder enige verskoning, al hoe later opdaag by die kerk vir die seremonie. Kan Oupa my help: Wat is ’n billike tyd om te wag voor ek my toga vat en padgee?
Beste Pastor, daar is ’n (moontlik apokriewe!) storie wat die rondte doen van ’n hoogeerwaarde hoogleraar van die Kerk wat, as ’n troue vir drieuur die middag geskeduleer is, stiptelik om 15:00 die diens begin, of die bruid nou daar is of nie! As die bruid dan na 15 minute opdaag, moet sy maar koes-koes haar pad vind na haar aanstaande wat beteuterd voor die kansel staan en wag.
Oupa het hom nog nooit tot sulke ekstreme maatreëls gewend nie, al het hy ten volle begrip dat ’n mens soms lus kry om so op te tree. Oupa wis dat dinge skeef kan loop op so ’n groot dag vir die bruid en bruidegom, en hy laat maar ’n bietjie ruimte toe vir sulke onvoorsiene flaters. Soms is dit egter ’n flater wat voorsien kon word wat moeilikheid maak. Die langste wat Oupa vir ’n bruid gewag het, was ’n uur en ’n driekwart. Wat dié dag gebeur het, was dat die bruid swanger was en, toe sy ’n maand voor die troue vir die finale passing van haar trourok gegaan het, nie daarmee gereken het dat die babatjie sou aanhou groei in haar maag nie. Toe hulle die oggend van die troue die rok wou aantrek, moes hulle die bruid daarin probeer forseer, tot so ’n mate dat die ritssluiter en ’n paar nate gebars het. Die rokmaker is inderhaas ontbied om die rok om die bruid te kom vaswerk. Amper twee ure nadat die troue moes begin, het die bruid baie, baie versigtig die kerk ingewaggel.
Maar Oupa het op die moeilike manier geleer om nie sy mond te gou uit te spoel oor ’n bruid wat laat is nie. Nou die ander dag maak Oupa reg om ’n liefste paartjie drieuur die middag te trou in die hartjie van die groot stad. Tien voor een bel die bruidegom baie benoud: Sit Dominee dalk vas in die verkeer? Oupa is heel op sy gemak. Nee man, die troue is mos eers drieuur. Oupa hoor toe die ysingwekkende woorde: Die troue is mos eenuur, Dominee…
Oupa het 13:00 op die uitnodiging aangesien vir drieuur die middag. In aller yl het Oupa en Mevrou Oupa die pad gevat, deur Vrydagmiddag se swaar verkeer, en die troue kon darem kwart voor twee begin. Oupa betaal nou nog af aan die spoedkaartjies…
Geduld, my liewe Pastor, word mos aangedui as een van die vrugte van die Gees. Bruide maak dat ’n mens soms ’n mandjievol van dié vrug nodig het!
