Ignatius Terblanche (ook bekend as IT) van Irene vra: Oupa Stoep, ons het nou in grendeltyd gesien hoe effektief dit kan wees as die eredienste van gemeentes opgeneem word en op YouTube en Facebook beskikbaar gestel word. Wanneer gaan die kerk begin bykom en besef dat dit die toekoms is van evangelieverkondiging? Ons leef in ’n digitale era, maar dit voel of die kerk se kommunikasie nog by posduiwe vasgesteek het!
Liewe IT, Oupa Stoep hoor wat jy sê en Oupa dink self dat, saam met die verpletterende negatiewe dinge wat die verspreiding van die virus meegebring het, die kerk gedwing is om te kyk na nuwe en innoverende maniere om die evangelie by die lidmate uit te bring, aangesien gewone eredienste in die kerkgebou net nie meer gehou kon word nie. Dit kan net positiewe gevolge vir die kerk inhou.
Baie predikante het groot gegaan en die opneem van ’n preek met ope arms verwelkom. Daar is dominees wat op die dak van die kerkgebou sit en preek, in die middel van ’n verlate straat, op ’n bruggie wat oor ’n kabbelende stroompie vloei. Ander staan in hul togas op die kansel en preek, of sit op die trappie van die kansel en praat. Baie bring hul boodskap vanuit hul studeerkamers of sitkamers. ’n Hele klomp predikante kies om net ’n stemboodskap te versprei, met die groot beweegrede die hoë koste van data en die groot klomp data wat opgebruik word as jy na ’n video-uitsending kyk. Stemboodskappe is baie lig op data en baie maklik om te deel.
Daar is egter nie ’n regte en ’n verkeerde manier nie. Uiteindelik word die trefkrag van die boodskap tog grotendeels gedra deur die inhoud van die boodskap, nie soseer deur die verpakking daarvan nie. Wat opmerklik is, is hoe mense boodskappe wat hulle aanspreek, versprei onder familie en vriende. En ja, liewe IT, hierdie maniere van kommunikeer is baie effektief en baie meer mense word bereik as wat normaalweg Sondae op die kerkbanke gesit het.
Oupa Stoep dink egter in sy enigheid dat dit nie hier ’n kwessie van óf…óf is nie, maar eerder én…én. As ’n mens net deur die elektroniese media gaan kommunikeer, gaan daar ’n groot klomp dinge verlore. As ’n mens ná inperking terugkeer en weer net eredienste in kerkgeboue hou, gaan ’n magdom geleenthede wat deur die elektroniese deel van boodskappe gevestig is, verlore gaan. Ons moet planne bedink om albei in die toekoms te bly doen.
Maar Oupa wil tog ’n lansie breek vir die tradisionele erediens in ’n kerkgebou, want sien, daar is ons in die teenwoordigheid van medegelowiges en daar word verhoudings gebou. So indrukwekkend soos ’n goed vervaardigde elektroniese erediens ook al mag wees, dit bly ’n onpersoonlike medium en dit maak die bou van verhoudings baie moeiliker. Jy mag die gesig en stem van die televisieprediker ken, want jy luister elke Sondag na hom/haar, maar dié prediker ken jou, wat aan die anderkant van die kassie sit, glad nie. Sulke dienste mag aan baie gewone behoeftes voldoen, maar tydens die groot geleenthede van die lewe, soos ’n troue, ’n doop, ’n roudiens is daar, in Oupa se ervaring, ’n intense behoefte aan ’n baie meer persoonlike verhouding tussen die bedienaar van die Woord en die ontvangers daarvan.
In Psalm na Psalm lees ons hoe die mense van daardie tyd gehunker het daarna om by die tempel uit te kom. Ja, hulle het gedink dat dit die aardse woonplek van God was, maar deel van die hunkering was ook ’n verlange om saam met ander voor die aangesig van die Here bymekaar te kom, om saam te bid, saam te sing, saam God te dien en loof. En daardie behoefte van die mens het deur al die eeue nog nie verander nie.
So, my liewe IT, Oupa hoop dat ons uit hierdie pandemie sal leer om nuwe maniere om die evangelie te bring aan te gryp, terwyl ons dalk van voor af sal leer om ons geliefde saamkom in ’n erediens te waardeer en te koester.