Opgebruikte Oscar van Orkney vra: Beste Oupa Stoep, hierdie jaar is nog eintlik in sy kinderskoene en ek voel heeltemal oorweldig, oorwerk en opgebruik. Kan Oupa dalk help met raad oor hoe ek dinge makliker en vinniger gedoen kan kry?  

Beste Oscar, Oupa voel jou pyn. Oupa het nou wel geëmeriteer, maar Oupa is nou so besig dat hy wonder waar hy ooit die tyd gekry het om ’n dag se werk te kon doen! Oupa het gelukkig nou meer tyd om te lees en hy het afgekom op lyste van dinge wat genoem word Life Hacks. Dis slim idees, kortpaadjies, blink planne wat belowe om die lewe vir mense makliker en lekkerder te maak. Oupa het gedink om Life Hacks te vertaal as lewenskierangs, want daarmee kierang jy so ’n bietjie die lewe om dinge makliker te maak. Een so ’n kierang is om druiwekorrels te vries om daarmee jou wyn af te koel in plaas daarvan om ysblokkies te gebruik. Die bevrore druiwekorrels verkoel die wyn, lyk mooi in die glas en verdun ook glad nie die wyn nie. ’n Ander kierang is om ’n gleuf in ’n tennisbal te sny en dié dan te gebruik om meer vashouplek te kry om ’n prop wat styf sit, af te draai.

Synde ’n goeie kerkmens, het Oupa sy grysstof ingespan om te dink aan kierangs wat ’n mens se lewe by die kerk beter en makliker kan laat verloop. Een kierang wat regtig werk, is om elke jaar die Almanak en Bybelse Dagboek deur jou gemeente te koop. Vir slegs R200 kry jy nie net ’n puik dagstukkie vir elke dag van die jaar nie, maar ook inligting oor al die gemeentes en predikante in die Kerk. En nou die kierang: As jy aan die einde van die jaar kom, moenie daardie Almanak weggooi nie. Sit dit êrens in die kattebak van jou motor en as jy ooit ’n motorprobleem optel of die slegte ding oorkom dat iemand siek word terwyl julle op reis is, het jy die name en telefoonnommers van mense in ’n gemeente naby aan jou in die Almanak. Soos Oupa ons Hervormers ken, sal hulle te graag help of jou in kontak bring met iemand wat kan help.

Nog ’n kierang: As jy elke Sondagoggend in ’n angssweet wakker word omdat dit dalk jou teeskinkbeurt is en jy vergeet het van eetgoed, dan maak jy ’n plan. As dit weer jou beurt is, sorg dat jy klein samoesas koop vir jou bydrae. Kry ook êrens ’n California Reaper-rissie, die hittigste rissie in die wêreld, in die hande. Versteek nou so een of twee dun skyfies van die rissie in elke samoesa. Jy sal nooit weer gevra word om eetgoed te bring nie!

’n Laaste kierang: Sit altyd baie voor in die kerk tydens ’n erediens. Die dominee vra nooit vrae vir die mense in die eerste of tweede rye nie en later, as die oë en die ore nie meer so goed saamwerk nie, sal dit nie so opvallend wees as jy vorentoe skuif nie.

Hoe het ou Martino altyd gesê? Kul jou hier en kul jou daar en siedaar! Oupa hoop sy kierangs beteken vir jou iets, liewe Oscar.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap