Neulsieke Nantus van Nababeep vra: Beste Oupa Stoep, kan Oupa my asseblief help om ’n uitweg te vind sodat ek nie ons familie se jaarlike Kersdagete hoef by te woon nie? Ek sien eerlikwaar nie kans vir die spyskaart wat nou al sedert die Groot Trek dieselfde gebly het nie, so ook nie vir die stories en kastige grappe wat jaar na jaar na jaar herhaal word nie. Ek gril my in ’n ander bloedgroep in as ek moet kyk hoe die simpel papierkrone wat almal gedwing word om te dra, maak dat gekleurde riviertjies sweet oor almal se gesigte loop. Help asseblief!
Beste Nantus, toe Oupa ’n bogsnuiter was wat geglo het dat hy alles in die lewe weet en ook dat hy kopiereg daarop gehad het om cool te wees, het hy ook gedink soos jy dink en gevoel soos jy voel. Die jaarlikse ritueel van die oordadige Kersdagete was vir hom iets waarteen hy met elke greintjie van sy wese opgesien het. Noudat Oupa ouer, gryser en (hopelik) ’n bietjie wyser is, sal Oupa ’n volle jaar van sy maandelikse pensioentjie gee om net weer een van die Kersdagkuiers van sy jeug te kon bywoon.
Kom Oupa vertel jou hoe dié kuiers verloop het: Die familie waarmee Oupa elke Kersdag gekuier het, was vir die een of ander rede altyd die familie aan Oupa se ma se kant. In dié familie was daar drie Miems – Antie Langmiem, Antie Kortmiem en Antie Mooimiem. Wat die verwantskap tussen die drie Miems was, wis Oupa nie. Antie Langmiem was getroud met Oom Aap, Antie Kortmiem met Oom Chummie, en Antie Mooimiem met Oom Poon.
Tussen die drie Miems het hulle gesorg vir die grootste deel van die spyskaart, wat jaar in en jaar uit ook maar dieselfde gebly het. Oupa kan nou probeer om sy lyf taalstryder te hou en te praat van die onderspek of skuimkoekie wat op die spyskaart was, maar Oupa verkies om van ’n gammon en ’n meringue te praat, soos ons gedoen het by ons kleintydkuiers.
Antie Langmiem was verantwoordelik vir die proteïene op die Kerstafel. Dit het bestaan uit ’n gammon waarvan die boonste vetgedeelte in presiese diamante gesny was met ’n rooi of groen glanskersie in die middel van elke diamant en met naeltjies op elke hoek van die diamant. Dié hele kontrepsie is dan geglasuur, en dit was Langmiem se seun, Klein-Aap, se verantwoordelikheid om die gammon te sny in skywe wat presies 3,75 mm dik was. Klein-Aap moes ook die kalkoen, so ’n hiperdroë affêre wat twee sabbatsreise lank in die oond deurgebring het, probeer sny. Een Kersfees was die kalkoen so hard gebak dat Klein-Aap se vlymskerp mes gegly het en die wysvinger op sy linkerhand tot op die been oopgekloof het. Klein-Aap het die volgende dag vertel dat daar ’n baie feestelike atmosfeer geheers het in die ongevalleafdeling van die plaaslike hospitaal.
Geen Kersete was ook ooit volledig sonder beestong met ’n mosterdsous en ’n lamsboud (koud bedien met sulke stukke harde wit vet aan elke sny). Antie Kortmiem was die koningin van slaaie. Haar dogter, Klein-Kortmiem, was kortstondig getroud met ’n Italianer, Mario Tsobanelli. Klein-Kortmiem het haar Mediterreense blootstelling volledig omhels en elke jaar ons beïndruk met ’n puzosalata, soos sy dit genoem het. Eintlik was dit maar net ’n klomp rys met elke liewe ding in die yskas wat opgekap en versnipper kon word daarin, saamgebind deur ’n sous van mayonnaise, kondensmelk en ’n ruim eetlepel of drie Dijon-mosterd (want Frankryk en Griekeland lê mos neffens mekaar…). Saam met die boheemse rysslaai, was daar die tradisionele gestolde komkommer-, beet- en wortelringe.
Mooimiem was die baasbakster in die familie. By aankoms het almal gesmul aan haar Christmas mince pies, Hertzoggies en brosbrood. Sy het haar beste gebêre vir nagereg met haar eie skepping: ’n stuk of tien lae plat ronde meringue met ’n konkoksie van room gemeng met rum & raisin-roomys tussenin. Haar trifle was net so manjifiek en, tussen die trifle en die tradisionele vrugtekoek, is ’n hele bottel brandewyn opgebruik. Aangespoor deur die voorbeeld wat sy vrou met die brandewyn in die poedings gestel het, het Oom Poon skelmpies die inhoud van so ’n plat botteltjie wat toegedraai was in bruin papier, by die vrugtepons ingegooi.
Dit het gemaak dat almal al hoe harder gepraat en al hoe lekkerder gelag het soos die ete verloop het totdat almal, kort na die ete, op enigiets wat sag en plat was, aan die slaap geraak het.
Dit, liewe Nantus, is Oupa se komvandaan-herinneringe as dit by Kersetes kom, herinneringe wat nou al ouer as 60 jaar is. En Oupa mis dit so want sien, al waar uitgebreide families mekaar deesdae sien, is by troues en roudienste. By troues word Wys my jou boerpampoene so kliphard gespeel dat niemand ’n normale gesprek kan voer nie, en na ’n roudiens is almal se monde so vol van eierbroodjies dat sinvolle kommunikasie ook nie moontlik is nie.
Oupa vra jou dus mooi: Koester dit as julle hele familie nog op ’n Kersdag bymekaarkom vir ’n ete. Dis ’n kosbare, baie skaars en baie nodige kuiergeleentheid. Gaan groot, geniet dit, maar wees versigtig vir Oom Poon se pons!
