Onnutsige Otto van Onseepkans vra: Beste Oupa Stoep, ek het pas my Ford Cortina Vet Ses laat opdoen. Die werktuigkundige het gesê dat ek hom elke drie maande moet vat vir ’n diens. Wat dink Oupa sal die beste wees, dat ek my Cortina bring na die oggenddiens of na die aanddiens?

Beste Otto, Oupa het geleer dat ’n mens drie keer lag vir ’n grap: die eerste keer as jy hom hoor, die tweede keer as jy hom oorvertel, en die derde keer as jy hom vang. Oupa vermoed dis nou die tweede keer dat jy die storie van om jou motor na ’n diens toe te wil vat, gebruik. Die grappie is so oud dat hy al baard het…

Ewenwel, jy het Oupa se kop op ’n spoor gesit en Oupa het besef dat daar tog baie ooreenkomste is tussen ’n motor en wat in ’n gemeente gebeur. In elke gemeente is daar mos gemeentelede wat werk nes die onderdele van ’n motor. Dinge begin by ’n wringkrag-omsetter, wat begin stoei met ’n nuwe idee. Die meetpasser sal kyk wat sê die Kerkorde, terwyl die hoëspanningsdraad sal soek vir vlugsout oor alles nou onseker voel. Die remskoen sal maan dat dinge nou te vinnig begin gebeur, terwyl die smoorklep sal soek vir ’n probleem vir elke oplossing.

Die tweekeel-valstroom sal nou sus en dan so loop en skinder by die verskillende partye betrokke by die saak. Die middelstaner sal weier om kant te kies, terwyl die spilskroef sal probeer sorg dat almal na sy pype dans.

Dominee sal teen dié tyd sien dat daar moeilikheid is en almal ontbied na die ontbrandingskamer, ook bekend as die konsistorie. Tant Bessie, oudste dienende diaken, sal die rol van stamperskoen inneem en woes tekere gaan oor die nuwe geite wat die gemeente kom ontstig. Dit sal alles te veel word vir die knormoer van die gemeente, oom Herklaas, wat almal sal uittrap en summier sal verklaar dat die vergadering ontaard het in ’n oproerige byeenkoms en dat almal nou hul terugtrekvere moet vat en huiswaarts keer.

Arme Dominee het teen dié tyd al lankal gaan wegkruip in sy mossienes terwyl hy die een pienk pilletjie na die ander in sy vullergat afgooi. Die krinkspil het een te veel geword vir hom.

Hier is vir jou ’n uitdaging, liewe Otto: Terwyl jy jou Cortina vat vir sy volgende diens, oefen al die mooi terme wat Oupa jou nou vandag geleer het en maak daarvan ’n vars, nuwe grappie!

(Met erkenning aan www.roekeloos.co.za vir die gebruik van terminologieë uit hul Motorwoordeboek)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap