Rustelose Renier van Riemvasmaak skryf: Beste Oupa Stoep, ek sit nou al sedert Maart net hier in my huis en ek kan nêrens heen reis nie. Ek was gewoond om so elke ses weke vir ’n naweek weg te breek en het twee keer in ’n jaar gaan vakansie hou vir ’n week of drie êrens in ons mooi land. Maar nou kan ek nie eens verder ry as die Koöperasie op die dorp nie en ek is bang dat ek soos ’n posduif sal word wat so gewoond raak aan sy hok dat hy naderhand weier om te gaan rondvlieg. Het Oupa dalk vir my raad?
Beste Renier! Oupa het baie empatie met jou dilemma. Oupa weet nou nie hoe lyk jou gesinsopset nie, maar Oupa weet dat as hy nie binnekort vir Ouma Kombuis op die langpad vat nie, gaan hy in ’n tas gepak word saam met al die dinge wat Ouma eendag vir die witolifanttafel by die basaar wil skenk. Maar dinge is wat hulle is en daarom het Oupa gedink ons moet die beste maak wat ons kan in die omstandighede waarin ons ons bevind.
Oupa stel voor: Kom leef jou reis – in jou huis! Hier is Oupa se plan:
Wat jy moet inpak: Soos met enige reis, moet ’n mens deeglik beplan wat jy gaan saamvat en inpak. Eerste ding om in te pak, is al jul fotoalbums, of dit nou regte foto’s in ’n album is of foto’s op selfone. Volgende maak julle ’n lys van elkeen in die huis se gunsteling-musieksnitte, en laastens maak julle almal se gunstelingresepte bymekaar en gaan koop die bestanddele daarvoor.
Gaan op reis: Hierdie is ’n familiereis, so sorg dat die hele huisgesin daar is vir die reis. Dit werk nou so: Die reis begin by die voordeur van jou huis. Dink terug aan die heel eerste keer toe julle daardie voordeur oopgemaak het en praat met mekaar oor watter verwagtings en drome julle gehad het vir dié nuwe woonplek. Deel met mekaar herinneringe wat die voordeur opdiep, dinge soos toe Sus Santjie haar eerste soen gekry het toe haar kêrel tot siens gesê het op die voorstoep, of toe Boetie Bernard ’n bietjie onder die weer was en ’n halfuur lank gesukkel het om die voordeur met sy motor se sleutel oop te sluit…
Die volgende deel van die reis is na die slaapkamers. Die persoon wat die langste in daardie kamer gebly het, kry kans om sy/haar gunstelingmusiek te speel en in die kaste te grawe en die oudste, mees geliefde en mees gehate kledingstuk uit te haal. Almal kyk dan saam na foto’s van die kamerbewoner en deel staaltjies oor die snaaksste, mees ongewone dinge wat dié persoon aangevang het. Die moontlikhede om so op ’n “ontdekkingsreis” van iemand en sy/haar kamer en lewe te gaan, word net beperk deur die kreatiwiteit van die familielede. As julle entoesiasties genoeg is, kan hierdie aktiwiteit maklik ’n dag lank duur. So reis ’n mens van kamer na kamer en deur die joernaal van almal se lewens.
Die volgende bestemming kan die sitkamer of televisiekamer wees waar julle praat oor mekaar se gunsteling-televisieprogramme en dan ’n reis terug in die verlede onderneem na groot gebeurtenisse en, byvoorbeeld, te onthou: Waar was ons toe ons in 1995 die eerste keer die Wêreldbeker in rugby gewen het, toe die 9/11-terroristeaanval in New York gebeur het, toe Allan Donald en Lance Klusener in mekaar vasgehardloop het in krieket se Wêreldbekerkompetisie, ensovoorts. As daar video’s van groot geleenthede soos troues, 21ste verjaardae of doopgeleenthede is, kan julle daarna kyk.
Elke aand van die reis deur jou huis sluit af rondom die eetkamertafel. Elkeen se gunstelinggereg kry ’n beurt om bedien te word, en as julle kan, dek ’n plek vir ’n familielid wat nie meer met ons is nie, met ’n foto van daardie persoon, dalk ’n kers wat brand, en deel jul herinneringe oor hom of haar met mekaar. Elke reisgenoot kan ook ’n geleentheid kry om hul mees geliefde gedeelte uit die Bybel te lees en daaroor te praat.
Oupa Stoep hoop jy snap teen hierdie tyd die beginsel, Rustelose Renier. Dink net aan die moontlikhede wat ’n reis na ’n lapa, swembad, braaiplek kan inhou, om nie eens te praat van hoe lank ’n mens in die motorhuis kan kuier oor al die motors wat deur die jare daar gestaan het en waarnatoe dié motors julle gevat het nie.
So, Rustelose Renier – leef jou reis, al is dit deur jou huis. Dit mag dalk net die waardevolste reis wees wat jy en jou geliefdes ooit onderneem het!
