Ek lees gereeld Oupa Stoep se Stoepstories en wil graag ook ’n eiertjie lê – of noem mens dit nou ’n flitsie stuur – rakende sy brief aan Dikvellige Dirkie van Danville oor ’n oorontwikkelde obsessie met foto’s (Die Hervormer, Augustus 2023).

Liewe Oupa Stoep, my naam is Fiela Fotograaf van Vrekverfontein – al vir 30 plus jare lank. En ja, Oupa Stoep, weet jy, dis ’n feit wat so baie nie verstaan nie: Foto’s is ’n noodsaaklike obsessie vir die bewaring van gister vir môre se onthou – baie beslils nie ’n oorontwikkelde obsessie nie.

Ek stem heelhartig met jou en die oem Doeminie saam en deel jou frustrasie oor ongeskikte optredes van sekere fotograwe – oral en gedurig met kameras en al rondspringend met selfone in die lug. Dis steurend, onvanpas en ongeskik. Maar glo my, Fiela spook ook maar met dieselfde frustrasie van na-apers, selfoonflitse, ensovoorts, wat indruis in sy gebied – en dalk oom doeminies wat die sakie nie so mooi verstaan nie. En ou Fiela sit sy kamera beslis neer by begrafnisse. Dit word net nie gedoen nie.

Fiela is uiters sensitief oor foto’s neem tydens die kerkseremonie en hou my maar eenkant, is meeste van die tyd nie inmengerig nie. Sekere noodsaaklike foto’s tydens die erediens probeer ek altyd, waar moontlik, voor of na die diens doen. Wat Oupa Stoep en die oom doeminies in ag moet neem, is die feit dat sommige oomblikke nie later vasgevang kan word nie. En dit is dán dat Fiela die doeminie vir ’n blitsmoment moet steur.

En dis nou waar ek op my kniegies staan vir so ’n klein bietjie simpatiekies van onse doeminies. En van Oupa Stoep. Verstaan asseblief ook bietjie. Want sien, Oupa Stoep, foto’s is werklik die enigste terugkykverhaal van die nuwe Meneer en Mevrou Bruidspaar se beste dag. Glo my maar, hulle neem nie veel in van hul groot dag nie, het net ogies vir mekaar en die handjies vashou is baaaie belangriker. En daarom probeer arme Fielie, uit ervaring, soveel moontlik van die dag se verhaal vasvang vir die nabetragting se o my hene!

En ou Fiela Fotograaf het nogals simpatie met die arme fotograaf wat pak gekry het met die waterbottel. Ek weet hoe dit voel – en dit terwyl die doeminie geweet het ek doen sulke verskriklike onverwagse dinge ter wille van die oomblik.

(Oupa Stoep antwoord: Fiela, Oupa wil jou tog maar waarsku om versigtig te wees vir vlieënde waterbottels…)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap