Geriatriese Gertjie van Gouritsmond vra: Beste Oupa Stoep, dit was pas my 75ste verjaardag, maar dit voel soos nou die dag dat ek in graad 1 was. Ek kan letterlik nog die vetkryt en die tamatietoebroodjies, toegedraai in waspapier, ruik. Maar nou is ek ’n driekwart eeu oud. Waarheen het die tyd gevlieg, wat het gebeur in die tyd dat ek die ondermaanse bewandel het?

Beste Gertjie, Eheu, fugaces labuntur anni! Helaas, hoe glip die vlietende jare verby, het Horatius gesê. Hoe reg was hy nie! Maar Oupa het vir jou goeie nuus: Oupa het afgekom op ’n stuk navorsing wat vir ons presies uitspel hoe jy die tyd in 75 jaar wat jy geleef het, deurgebring het.

Die statistieke is uitgewerk vir mense wat nou 75 jaar oud is. Lede van die Millenniërgenerasie sal byvoorbeeld ’n volle 50 jaar op skerms van selfone en tablette spandeer teen die tyd dat hulle 75 jaar oud is. Mense soos jy, Gertjie, spandeer drie maande van hul jare in dokters se spreekkamers, ses maande op die toilet as jy ’n man is, 18 maande in die geval van ’n vrou…

’n Vrou van 75 het 11 maande spandeer aan was en stryk, haar man 23 maande om te soek waar sy die gestrykte klere weggebêre het. Sedert die advent van selfone, het jy al 4,125 jaar op jou selfoon deurgebring, maar jy het net 18 maande gebruik om te bad of te stort. Jy het ’n jaar en ’n half in verkeersknope vasgesit en daarvan was jy twee en ’n kwart maande lank besig om vir taxi’s te beduie waarheen hulle eintlik op pad is. In 75 jaar het ’n man twee en ’n derde dag lank inkopies gedoen, ’n vrou twee en ’n derde jaar lank.

In hierdie tyd spandeer ’n mens gemiddeld twee jaar en twee maande daaraan om kos te maak en vyf jaar om die kos op te eet. In jou leeftyd het jy een jaar en tien maande in die skoolbanke gesit, een jaar en sewe maande spandeer aan sport en fiksheid, en twee jaar tien maande lank gekuier met vriende. Jy het twee maande en drie dae gekuier by jou skoonfamilie, maar dit het gevoel soos 20 jaar.

Sedert 1976 het jy omtrent vyf jaar en ses maande lank televisie gekyk, en vandat jy begin werk het, het dit ’n hap van sewe jaar uit jou lewe geneem. Laaste, maar nie die minste nie, het jy 24 jaar en vier maande lank geslaap as ’n mens al die ure wat jy geslaap het, bymekaartel.

So, my liewe Gertjie, jy kan sien dat jy baie besig was in die 75 jaar wat jy geleef het. Geniet die jare wat voorlê. In dié tyd gaan jy minstens twee jaar en sewe maande lank soek na jou bril en jou sleutels!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap