Middeljarige Manie van Mooirivier vra: Beste Oupa Stoep, ek is nou al vir 15 jaar predikant in dieselfde plattelandse gemeente en voel deesdae so ’n bietjie uitgepreek. Kan Oupa dalk help met idees hoe ek my preek nuut en vars kan hou?
Beste Manie, Oupa voel vir jou, want Oupa was al baiekeer in sy bedieningstyd op die plek waar jy nou is. ’n Mens sou dink dat jy in die bykans 1200 bladsye van die Afrikaanse Bybel baie maklik elke week nuwe preekstof sal kry, maar helaas, dit werk nie altyd so nie. Soms blaai en blaai en lees en lees jy aan die Bybel, maar sukkel om ’n teks te kry wat so met jou praat dat jy graag daardie boodskap aan die gemeente wil probeer oordra.
Ons hande as predikers is ook nogal gebind. ’n Mens hoor mos baiekeer dieselfde storie wat oor en oor vertel word met net die hoofkarakters se name wat elke keer verskil. Dit kan ons nie doen nie, want wie sal ons glo as ons beduie dat Agitofel met sy slingervel en klippie die reus Goliat doodgemaak het, of dat Managat (’n regte egte Bybelse naam: sien 1 Kron 1: 40) deur Nebukadnesar in ’n kuil vol leeus gegooi is?
Die enigste raad wat Oupa wel kan gee, is dat jy maar terugval op die beproefde BOS-metode (Boude Op Stoel). Lees die Bybel maar nog meer, lees nog wyer aan literatuur oor die Bybel, terwyl jy deurgaans bly bid om leiding.
As dit nie wil help nie, kan jy die roete volg van ’n kollega wat gespog het dat hy nie so sukkel met nuwe preke nie, want hy preek twee weke na mekaar dieselfde preek. Toe iemand hom vra hoe hy dit regkry, sê hy dat dit maklik is. As hy week twee weer dieselfde preek preek, dan haal hy net sy valstande uit voor hy begin preek!