Wonderende Wilma van Westonaria vra: Beste Oupa Stoep, ek wonder: As Sinterklaas vandag met ons sou kon praat, wat dink Oupa sou hy vir ons wou sê?
Beste Wilma, Oupa dink Sinterklaas sou iets soos die volgende sê: Goeiedag! My naam is Nikolaas. Ek is die Biskop van Myra in die provinsie Lycia in Bizantynse Anatolia. Julle ken dit vandag as Turkye. Ek het geleef in die vierde eeu na Christus en het bykans my hele lewe gewy aan die bediening in die Griekse Christelike kerk.
Iets wat my groot vreugde in my lewe gebring het, was om vir mense geskenke te gee. Dis nou nie as hulle verjaar het nie, maar sommer net as ek lus gevoel het om dit te doen of as ek gehoor het dat daar nood is. Ek het die geskenke so probeer gee dat die mense nie geweet het van wie dit kom nie. Een keer, onthou ek, was daar ’n man met drie dogters, en die gesin het dit nie breed gehad nie. Die arme pa het nie genoeg geld gehad om vir sy dogters ’n behoorlike bruidskat te gee soos in daardie dae die gebruik was nie. Ek het genoeg geld in ’n sakkie gesit en dit een aand by die huis se skoorsteen ingegooi. Ek het natuurlik eers seker gemaak dat daar nie ’n vuur in die herd brand nie! My beloning was om die vreugde op die gesigte te sien van die mense vir wie ek so geskenke kon gee.
Ek hoor toe dat daar ’n hele groot storie ontwikkel het oor hierdie goedbedoelde gewoonte van my. Hulle het my naam verander na Sinterklaas en vir my ’n wit baard gegee en my rooi en wit klere laat dra. Ek het sommer ook baie gewig opgetel! Ek kan dié dinge hanteer, maar wat my baie pla van die legende rondom Sinterklaas, is dat mense, en veral kinders, nou verwag dat hulle tydens Kersfees geskenke móét kry. Hulle skryf selfs briewe aan Sinterklaas om te sê watse geskenke hulle wil hê!
Ek het geskenke gegee omdat ek wou, sonder dat die mense geweet het dat hulle ’n geskenk gaan kry en sonder dat hulle dit enigsins verdien het. Ek het dit gedoen uit dankbaarheid omdat ek besef hoeveel seëninge ek elke dag uit die hand van ons hemelse Vader ontvang. Dit pla my daarom nie dat daar op Kersdag, wanneer ons die geboorte van ons Verlosser, Jesus Christus, gedenk, geskenke uitgedeel word nie. Sy koms na die wêreld was tog die grootste geskenk wat die mensdom ooit kon ontvang. Ons het dit egter nie verdien nie en sou op geen manier die verwagting kon koester dat dit moes gebeur nie. Dit was alles net genade.
En dit, liewe Wilma, is wat Oupa dink Sinterklaas vir ons sou sê!
