Benoude Bruid van Brakpan vra: Oom Stoep, kan Oom my asseblief raad gee? Ek trou later vanjaar en wil graag alles perfek hê op die dag. Wat stel Oom voor moet ek doen of nie doen nie?
My liewe bruid, as veteraan van bykans 400 huweliks-bevestigings wat Oom al waargeneem het, is Oom tog so dankbaar dat jy sy raad vra en jou nie net verlaat op die bruidstydskrifte of Pinterest nie.
Die heel, heel beste raad wat Oom jou kan gee, is een woord: EENVOUD! Hoe eenvoudiger, hoe meer stylvol en hoe meer gaan jou troue uitstaan tussen al die sirkusse wat deesdae deurgaan as ’n huweliksbevestiging. Hoe meer fieterjasies, geite en oordadigheid daar is, hoe minder is die fokus op die belangrikste mense van die dag: die bruidspaar. ’n Hele optog van onwillige snuiters met swartborde waarop soetsappige gesegdes geskryf is, gevolg deur ’n miniatuurbruidspaar en, les bes, ’n boepensvarkie in ’n toga, maak dat almal moeg gekyk is teen die tyd dat die bruid die gangetjie afstap.
So van die varkie gepraat – daar is drie dinge wat jy asseblief soos die pes moet vermy: ’n troue op die strand, ’n seremonie in die buitelug, en enige dier wat deel is van die orde van gebeure. Oom Stoep is ’n gemoedelike mens wat altyd ander probeer tegemoetkom, en daarom het hy al ingestem om ’n paar troues op die strand te doen. Glo my vry, nie een het sonder probleme verloop nie. Óf die gety kom in en spoel die gaste se stoele weg, óf oorsese toeriste kom staan in die middel van alles en neem foto’s van die opvoering wat hulle dink vir hulle vermaak aangebied word, óf ’n stormsterk wind waai elke woord wat gesê word deur predikant of bruidspaar so weg dat die inboorlinge op die Amasonerivier dit kan hoor maar nie een van die gaste op die strand nie…
Seremonies in die buitelug hou die risiko in dat dit kan reën of so warm of so koud kan word dat Oom Stoep letterlik sien hoe die mense voor hom óf rooi óf blou van aangesig word. Al die welriekende blomme wat uitgestal word, het die manier om swerms bye, hordes vlieë of ’n eskader of twee naaldekokers te lok, tot groot konsternasie van die gaste. En as die son begin sak, dan kom die muskiete mos. Oom Stoep het al ’n paar keer gedink dat die mense hande klap vir sy mooi preek, net om uit te vind dat hulle eintlik besig is om die bloedsuiers dood te slaan…
En asseblief, bly weg van diere af! Die arend wat so mooi geleer is om met die ringe in ’n sakkie in sy poot ingevlieg te kom en op die strooijonker se arm te kom sit, gaan vir seker op die dag van die troue ’n eekhoring bespied wat vir hom veel aanlokliker lyk – en weg is die ringe. Die makste van honde verander totaal van persoonlikheid as hulle al die vreemde mense met hulle rooi of blou gesigte gewaar. Op ’n onlangse troue het Oom Stoep aanskou hoe ’n Great Dane ’n strooimeisie soos ’n vlieër agter hom by die kerk uitsleep toe sy hom die ringe vorentoe wou laat bring.
’n Laaste wenk vir jou aanstaande eggenoot: Oorreed hom om sy bedankings te doen net na julle die register geteken het in die kerk of kapel. Niemand sing Tant Koek se hoenderhaan of bespuit hom met daardie stringe slymerige gemors nie. Almal kan mooi hoor as hy dit wat op sy hart lê in alle opregtheid wil oordra. Hy kan dan op die onthaal steeds ’n heildronk op sy bruid instel en sy balhorige en besope vriende die kans gee om sy naam krater te maak.
En heel, heel laaste: Selfs in Brakpan tel ’n wit sweetpak nie as ’n trourok nie…
