Bemoeisieke Bettie van Bultfontein vra: Oupa Stoep, ons is nou al amper ’n jaar en ’n half gekonfronteer met die inperkings as gevolg van die pandemie. My vraag is: Wat doen die dominees met al hulle tyd? Huisbesoek kon vir lang tye nie gebeur nie, eredienste is gereduseer tot ’n kort video- of stemboodskappie, hospitaalbesoek kan nie meer gedoen word nie, basaars is van die baan – so eintlik is predikante nou mos op uitgebreide langverlof!
Liewe Bettie, jy het dit reg dat die inperking wat die pandemie meegebring het ’n groot verandering aangebring het in predikante se werksituasie. Maar laat Oupa jou verseker: Die verandering was nie dat predikante minder gewerk het nie, eerder baie meer en dat dié werk die meeste van die tyd ook ’n groter emosionele tol geëis het.
Kom Oupa verduidelik net wat gebeur het toe eredienste nie meer kon plaasvind nie. Elke predikant moes inderhaas ’n manier vind om steeds Sondae die evangelie te kan bring. Nie almal is ewe vaardig met tegnologie of ewe vertroud met die gebruik van sosiale media nie. Dit was ’n geweldige leerkurwe: Wat werk die beste, WhatsApp, YouTube of Facebook? Stemnotas of videoboodskappe? Hoe kry jy die boodskap by al jou lidmate uit, want nie almal het slimfone of toegang tot genoegsame data nie.
As jy jou pad deur hierdie mynveld geworstel het, kom daar elke keer vars moeilikheid as jy ’n opname van ’n preek wil maak. Of jou honde begin onbedaarlik blaf, of twee hadidas besluit dat die stoepie voor die studeerkamer hul wittebroodsuite is, of beurtkrag maak dat, net wanneer jy die sterkste punt in jou preek maak, jy jou skielik in pikgietnagdonkerte bevind. As jy nie die truuk geleer het om eers jou boodskap aan jouself te stuur voordat jy dit na die gemeente stuur nie, hoor die hele gemeente dan hoe jy in robuuste Afrikaans met Eskom praat…
Dis hoe dit gaan met maar net een faset van jou bediening. Elke ander faset verg net soveel innovasie en het net soveel voetangels. Glo my, liewe Bettie, predikante is nou besiger as ooit en ook moeër as ooit, veral emosioneel moeër. Lidmate is besorg oor hul gesinne, predikante oor ál die gesinne in die gemeente. Daarom bid ons nou langer en meer intens as ooit tevore. Dit bly ons voorreg om dit te kan doen.
