Miriam Kwaadsteniet van Lawaaiwater vra: Ons het ’n ouerige dominee wat by ons aflos en hy het vir die gemeente gesê dat ons ’n “Liturgiese Erediens” gaan doen rondom Kerstyd. Kan Oom Stoep asseblief vir my verduidelik watse ding ’n “Liturgiese Erediens” is? Beteken dit dalk dat daardie ds Maarten Luther van wie ons in die kategese geleer het, gaan kom preek?

Beste Miriam

Die manier hoe sekere dominees die term “Liturgiese Erediens” gebruik, kan nogal tot verwarring lei, want sien, elke erediens is eintlik ’n liturgiese erediens. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal gee die volgende definisie van liturgie: Al die gebede, handelinge, liedere van ’n erediens. Inrigting van ’n erediens. Die term liturgie het niks met Martin Luther uit te maak nie, maar kan teruggevoer word na die Ou-Testamentiese offerdiens waar die term leitourgia gebruik is. Die beteken letterlik die diens van die volk.

Wanneer ’n dominee, wat as hy/sy hierdie werk doen ook ’n liturg genoem kan word, gaan sit om die verloop van die ere-diens te beplan, stel hy/sy die liturgie van die erediens saam. Die liturg kies hoe die erediens gaan begin, watter liedere gesing gaan word en wat die volgorde van die verskillende elemente van die erediens gaan wees. Elemente bedoel dinge soos gebed, Skriflesing, geloofsbelydenis, prediking, seëngroet, ensomeer. Die Hervormde Kerk se siening is dat ’n sekere minimum elemente in elke erediens teenwoordig behoort te wees, dinge soos gebed, sang, wil van God (wet), geloofsbelydenis, Skriflesing, Woordverkondiging. Dit bly die liturg se keuse hoe hy/sy hierdie elemente op mekaar gaan laat volg om die ontmoeting tussen God en die gemeente in die erediens ten beste tot sy reg te laat kom.

Party predikante en gemeentes verkies ’n vaste liturgie wat Sondag vir Sondag op dieselfde patroon verloop. Ander verkies weer ’n meer wisselende liturgie. Een is nie reg en die ander verkeerd nie, solank die liturgie altyd in diens staan van die ontmoeting met God.

Rondom die groot feesdae in die kerklike jaar, naamlik Kersfees, Lydenstyd, Paassondag, Pinkster, ensovoorts, het die gebruik nou al etlike jare terug ontstaan dat Woord-en-lied-dienste, oftewel sangdienste, gehou word waar, byvoorbeeld, die boodskap van Lydenstyd uitgelig word deur toepaslike Skrifgedeeltes te lees, afgewissel deur liedere te sing wat by die tema pas.

Om die een of ander rede – Oupa Stoep weet wrintiewaar nie hoekom nie – het party predikante na hierdie sangdienste of Woord-en-lied-dienste verwys as Liturgiese Dienste. Dit wil tog voorkom of hierdie gebruik aan die uitsterf is. Die gewildste van hierdie formaat eredienste is sonder twyfel die Kerssangdienste. Gemeentes en liturge doen baie moeite deur kore te laat sing, ander instrumente soos trompette en harpe in te span, en ook om Kerstablo’s  op te voer. Dis natuurlik nie sonder risiko nie. Die storie word vertel van ’n Kerstablo wat gereël is met die kategesekinders as rolverdeling. Klein Jannie Skandalas is gekies om die herbergier te speel, kompleet met herberg gemaak van kartondose. Jannie se enigste verantwoordelikheid was om vir Josef en Maria te sê Daar is nie plek in die herberg nie. Maar Jannie Skandalas was ’n kind met integriteit: As hy ingekyk het by die deur van sy kartondoos-herberg, was daar báie plek, so het hy tydens die repetisies telkens dit ook gesê: Kom in, hier is baie plek...

Na vele afrigtingsessies was almal tevrede dat Jannie Skandalas in die erediens waartydens die tablo opgevoer is, sy woorde sou reg kry. Die hele gemeente was daar en alles het tog te pragtig verloop. Maar toe Josef en Maria by die herberg aankom, oorrompel Jannie Skandalas se eerlikheid hom weer en hy sê kliphard: Hier’s dalk nie plek in die herberg nie, maar kom in vir ’n dop!

Dit word beweer dat die gelag so hard was dat dit selfs oorle Martin Luther se ore bereik het.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap